Ockert verruil Polokwane vir Pretoria

"Die trek na Pretoria gaan my die geleentheid gee om by 'n groter klub aan te sluit wat beteken dat daar meer kompetisie vir my gaan wees wat my tot my volle potensiaal kan druk."

POLOKWANE – Wanneer hy deur die water klief is Ockert Vermeulen in sy element.

Dié swemmer het vir die eerste keer in 2004 swemklasse bygewoon en aan sy eerste nasionale swem- kampioenskap in sy gr. 6-jaar.

“Ek het nie besonder goed gevaar nie,” skerts hy. Hy het aanvanklik by Linda Roets swemklasse geneem maar het later by Douggie Eagar se Eagar Aquatics aangesluit. Dit is saam met dié klub wat hy aan die nasionale swem- kampioenskappe begin deelneem het.

“Ek het vir sewe jaar elke jaar aan die kampioenskappe deelgeneem maar nooit besonder goed gevaar nie. Verlede jaar het ek my beste vriendin verloor kort na die nasionale kampioenskappe en besluit om eers tydelik te rus.

“Na twee maande het ek weer begin oefen en reg eet. Ek het vanjaar vir die eerste keer aan die senior nasionale kompetisie deelgeneem en ‘n negende plek behaal en is nou baie opgewonde om te sien wat my toekoms inhou.”

Swem, verduidelik hy, is nie soos ‘n spansport nie. “Jy swem net vir jouself. Jy moet elke oggend vroeg opstaan vir oefening, maak nie saak hoe koud jy kry nie. As jy nie goed geswem het nie, is dit omdat jy nie genoeg geoefen het nie. Daar is niks maklik aan die sport nie, alles is harde werk en oefen, oefen, oefen. ‘n Mens moet geestelik sterk wees en in jouself glo.”

Ockert verhuis in Augustus na Pretoria waar hy by die Universiteit van Pretoria (Tuks) swemspan gaan aansluit.

“Die trek na Pretoria gaan my die geleentheid gee om by ‘n groter klub aan te sluit wat beteken dat daar meer kompetisie vir my gaan wees wat my tot my volle potensiaal kan druk. Oom Douggie was ‘n wonderlike leermeester en het my altyd gemotiveer met sy ondersteuning. Hy het ‘n wonderlike fondasie vir my swemloopbaan gelê en ek sal altyd daarvoor dankbaar bly.”

Sy mikpunt is om vir die Statebondspele te kwalifiseer en dié mikpunt dra by tot die ongeveer 24-uur wat hy weekliks oefen. Hy maak nou geld bymekaar om na Frankryk te toer waar hy aan ‘n groot swemkompetisie teen swemmers van regoor die wêreld kan deelneem.

Ockert benodig R30 000 vir die toer en enigiemand wie hom wil borg kan ‘n inbetaling maak by:

OC Vermeulen

Standard Bank tjekrekening

Rekeningnommer: 030123062

Verwysing: swimming.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version