Mokopane se renjaers sit die voet neer tydens die Wintertrofee wedren

Die renjaers van Mokopane het in 11 afdelings teen onder meer Rietkuil, Mahem, Vereeniging en Polokwane se jaers gejaag.

MOKOPANE – Bosveld Wedrenklub se renjaers het verlede Saterdag die koue in Polokwane trotseer en nie teruggestaan vir al die jaers wat van oral gekom het om aan die Wintertrofee wedren deel te neem nie.

Die renjaers van Mokopane het in 11 afdelings teen onder meer Rietkuil, Mahem, Vereeniging en Polokwane se jaers gejaag.Van die afdelings het tot 21 motors op die baan gehad in ‘n aand vol opwinding.

Karien Ruytenberg vertel Bosveld Wedrenklub se jaers was goeie kompetisie vir al die deelnemende klubs.

Haar dogter, Elizka Ruytenberg het in die Rookieklas deelgeneem en aan die einde van die aand met ‘n algehele tweede plek in dié klas weggestap.

“Stephan Pieters het ‘n baie goeie begin gehad en het voor geloop in die eerste wedren toe hy betrokke is in ‘n ongeluk.

“Sy motor is so beskadig dat hy nie vir die res van die aand verder kon deelneem nie.

“Johan Thiart het ook vroeg in die eerste wedren ‘n noue ontkoming gehad toe hy ‘n muur tref.

Gelukkig was die skade aan sy motor nie te groot nie en kon hy die wedren voltooi. Nico Erasmus het ook sy deel gedoen in die Stockrodklas en Koos de Beer het Bosveld Wedrenklub verteenwoordig in die 1660-klas waar die jaers mekaar goed opgekeil het.”

Boela Bekker het ‘n tweede plek in die Pintoklas gekry. Foto’s: Verskaf

Karien sê in die Pintoklas het Boela Bekker die geleentheid gekry om sy motor se krag en spoed teen dié van die kompeterende renjaers te meet.

“Hy het goed gery en gewys hy staan nie terug vir die manne van die stad nie.

“Hy stap aan die einde van die aand weg met ‘n algehele tweede plek.”

Bosveld Wedrenklub bedank die renjaers wat die klub in Polokwane gaan verteenwoordig het.

Die volgende ovaalbaanwedren is op Saterdag, 10 Junie op die Ovaalbaan buite die dorp.

Almal is welkom.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version