Die eerste wedloop is die moeilikste

"Dit was die moeilikste ding wat ek nog aangepak het."

POLOKWANE – Polokwane inwoner Amri van Aarde het onlangs in haar eerste Twee Oseane Marathon deelgeneem en sy het met Review oor haar ervaring gesels.

“Dit was die moeilikste ding wat ek nog aangepak het. Ek is bly dit is verby maar dit is nogtans ‘n ervaring wat ek vir almal sal aanbeveel,” vertel sy.

Sy het al meer as 20 wedlope van 21 km voltooi maar, sê sy, dit het haar nie heeltemal vir dié uitmergelende 56 km marathon voorberei nie.”Daar was tye wat ek nie eers geweet het hoe ek die een voet voor die ander gesit het nie en ek het aan die binnekant gehuil maar steeds ‘n brawe front voorgehou en aangehou met wat ek myself voorgeneem het om te doen. Ek is iemand wie glo om iets deur te sien tot die einde toe. Ek gee nie op nie,” sê sy.

Sy het in die begin van die jaar met haar voorbereiding vir die Twee Oseane afgeskop en sê alhoewel sy redelik tyd gehad het moes sy steeds hard werk en daagliks gaan draf om haar doelwitte te bereik. Buiten haar liefde vir hardloop is Amri ook ‘n onderwyser, netbalafrigter en die bestuurder van ‘n hokkieakademie.

Review het met haar oor hoe sy haar weg oopsien om by alles uit te kom en wat haar raad aan ander is vir wie die verskoning ‘ek het nie tyd vir als nie’ al te maklik kom gesels.

“Ek het nog nie ‘n gesin van my eie nie en dit speel ‘n rol in hoe ek my tyd spandeer. Meeste van my tyd kan aan die skool afgestaan word met my klasse en tussendeur die netbal en hokkie ook. Wanneer ek saam met die kinders vir netbalwedstryde moet gaan gun ek myself die kans om vir daardie dag of twee te rus. Rus is net so belangrik soos hardloop self en vir mense wat dit wil aanpak sal ek tydsberekening en beplanning hoog aanbeveel.”

Sy is van mening dat voorbereiding vir iets soos die Twee Oseane en die Comrades 80% in mense se kop en 20% liggaamsvoorbereiding is.

“Ek bid baie as ek so ver moet hardloop en dit is vir my lekker om te sien hoe ver ek myself kan druk. Daarby is die liefde en ondersteuning van vriende en geliefdes net so belangrik.”

 

riana@nmgoup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version