Ovaaljaers wys vernuf

Nie net wedrenmotors nie, maar selfs kruiwaens en skopfietse het gesorg vir pret en aksie tydens Bosveld Wedren Klub se byeenkoms verlede Saterdag op die Ovaalbaan.

MOKOPANE – In die Junior Stockrodklas het die jong vroue gewys die sport is nie net vir die manne nie. Zannie Smit van Mahem Raceway eindig eerste met Elizka Ruytenberg van Bosveld Wedrenklub op haar hakke. Micheal Pieterse, ook van Bosveld Wedren Klub, het die derde plek opgeraap.

Karien Ruytenberg van die klub vertel die Stockrods het soos oudergewoonte weer gesorg vir baie opwinding, met wedrenne uit die boonste rakke. “Die kompetisie tussen die senior deelnemers was groot, en daar is hard baklei op die baan, maar aan die einde van die aand is daar net drie trofeë om te wen. Bosveld maak skoonskip met MJ Bekker eerste plek, Johan Thiart tweede en Herman Nel in die derde plek.”

In die 1660 klas is daar ook hard baklei vir die eerste drie plekke. Fred Cooper van Bosveld het dit reggekry om met die derde plek trofee aan die einde van die aand weg te stap, ten spyte van ‘n baie noue ontkoming vroeër toe hy amper met ‘n ander stilstaande motor op die baan gebots het. Marnus du Plessis van Mahem was eerste en Pieter Brouer ook van Mahem, tweede.

In die Pinto-klas het Mahem Raceway se jaers vir opwinding gesorg. Sors du Plessis wen met Roelof Harmse tweede en Chantel Lewis derde. In die 2.1 liter klas het Desmond Meyer en Frans Nagel van Mahem onderskeidelik met die eerste en tweede plekke weggestap. Ian Adlem van Bosveld was in die derde plek.

Karien sê Bosveld Wedren Klub het besluit om voortaan gedurende pouses bietjie meer opwinding vir die toeskouers te sorg. “Saterdag het dit afgeskop in die vorm van lekker wedrenne vir oud en jonk. Die kinders kon met hul skopfietse om die baan resies jaag, waarna lekkergoedpakkies aan hulle uitgedeel is. Die volwassenes moes aflos-kruiwa stoot om die baan, maar daar was ‘n vangplek. Diegene bo 18 moes ‘n bier drink voor hulle verder kon stoot na die oorgee. Die onder 18’s en die wat nie bier wou drink nie, moes ‘n botteltjie koeldrank klaarmaak. Die insittende wat gestoot is, moes ook sy kant bring en saam koeldrank of bier drink.”

Bosveld Wedren Klub bedank al die jaers, ondersteuners, SOS se ambulansdienste en Far North Midas.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version