Henco Venter kry motivering van sy spanmaats

Henco draf hierdie jaar as senter op die veld uit vir die Pietersburg/Dendron Rugbyklub.

POLOKWANE – Reeds sedert Henco Venter ses jaar oud was, het hy gedroom daarvan om rugby te speel.

Op beide laer- en hoërskool was hy deel van die eerste 15-tal wat op die veld uitgedraf het en het hy besluit om na skool dié passie van hom voort te sit.

“Ek was in Hoërskool Zwartkop en het na skool na Polokwane verhuis. Ek was nie seker presies wat ek wou studeer nie, en het aangesluit by Hillary Construction waar ek meer leer van siviele ingenieurswese.

“Ek het ook besluit om aan te sluit by die Pietersburg/Dendron Rugbyklub en het hierdie jaar by hulle begin speel.”

Hy vertel dat die lekkerste deel van rugby die mense is wat saam met jou speel en dat hierdié mense ook dan die spel lekker maak. Om seer te kry is egter ‘n negatiewe punt en hy vertel dat hy reeds al die ligamente in sy linkerenkel geskeur het.

“Die fisiek aspek van klubrugby is nog vir my effens moeilik. Die ouens is baie groter en sterker. Ek kan nie aan enige iets maklik dink by rugby nie. Jy moet hard werk vir dit wat jy wil hê.”

Hy oefen twee maal ‘n week saam met die span en gaan ook elke dag gimnasium toe.

“Ek is in murg en been ‘n Bloubul, maar my gunsteling speler is Brian O’Driscoll van Ierland. Hy het ongelooflike deursettingsvermoë en ek hou van hoe hy rugby speel. My beste motivering is om na die ou langs my te kyk en as hy beter is as ek, motiveer dit my om beter te doen.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version