Skopboks steeds ‘n uitdaging vir Elise

Sy doen ook graag ekstra oefeninge by die huis en gaan aan einde Junie, Orlando, Florida toe saam met ander skopboksers waar ons aan die ISKA 17 gaan deelneem.

POLOKWANE – Elise Pretorius het al haar 50ste verjaarsdag gevier, maar laat ouderdom haar nie onderkry nie. Sy oefen net so hard soos die junior skopboksers by Limpopo Province Sport Karate/Kickboxing Academy (LPSKKA) en haar harde werk is in Oktober beloon toe sy twee silwer medaljes verwerf het tydens die National Martial Arts, International Sport Karate/Kickboxing (NMA&ISKA) kampioenskappe.

“Ek het net teen een vrou geveg aangeien ons net twee in die veterane afdeling was. Dus het ons twee gevegte van drie minute elk geveg. Ek het in twee afdelings geveg, naamlik ligte kontak en punte.”

Sy vertel dat sy nog altyd lief was vir gevegskuns en dat sy altyd rolprente daaroor kyk. Dit is ook een van die redes waarom sy sewe jaar gelede by LPSKKA aangesluit het.

“Ek het nou ‘n bruin gordel en my motivering is om binnekort my swart gordel te kry. Die sport help my met die epileptiese aanvalle waaraan ek ly en vandat ek met die sport begin het, het die aanvalle drasties verminder. Ek het op 20 September my eerste skopboksoefening begin en op 1 November daardie selfde jaar het ek die eerste keer gradeer.”

Pretorius sê sy geniet elke oomblik van die sport en vind die oefening maklik, alhoewel sy sukkel om te draf.

“Die slegste moet wees as ‘n mens verloor of nie kan oefen nie omdat jy siek is. Die lekkerste is natuurlik as jy wen.”

Sy doen ook graag ekstra oefeninge by die huis. Sy erken dat sy nie in Oktober fiks genoeg was nie, maar al het sy silwer medaljes gewen, was dit vir haar ‘n oorwinning. Sy sal ophou met skopboks wanneer sy regtig nie meer kan deelneem nie.

“Ek gaan einde Junie, Orlando, Florida toe saam met ander skopboksers waar ons aan die ISKA 17 gaan deelneem. Ons kort nog borge, maar sien uit na die kompetise. Ek wil graag die wêreldkampioen kroon dra.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version