Kolskoot vir Myburgh

Rudi is in 2016 as manskut van die jaar by die Bosveld Jagtersvereniging se jaarlikse prysuitdeling aangewys.

POLOKWANE – Nie almal beskou skiet as ‘n sportsoort nie.

Skiet het verskillende betekenisse vir verskillende mense, sommige sien dit as ‘n manier om kos te bekom, ander as ‘n manier om oorlog te voer en dan is daar diegene wat dit as ‘n sportsoort beskou.

Rudi Myburgh skiet nie net om vleis op die tafel te sit nie, maar ook om te ontspan.

“Wanneer ek skiet is dit vir my ontspannend. Die tevredenheid wat ‘n mens kry om die kleinste groepering moontlik te skiet is baie bevredigend. Dit laat jou aan ander dinge dink as jou daaglikse, en jou geweer praat nooit terug nie,” skerts dié Voorsitter van die Bosveld Jagtersvereniging.

Met kettie en windbuks in die hand het hy reeds van ‘n jong ouderdom af soveel tyd as moontlik op sy oupa se plaas, en vriende se ouers se plotte en plase, spandeer.

“Ek het aan die einde van 2006 by die Bosveld Jagtersvereniging aangesluit en in 2007 aan my eerste skietkompetisie deelgeneem. In 2011 het ek my Springbokkleure in .22 skyfskiet verwerf en aan die Afrika Spele in Egipte deelgeneem.

“Daar het ek algeheel vierde geëindig en was ek deel van die wenspan.”

Hy vertel dat sy gunsteling gewere die 6 mm Dasher en .22 Anschutz is.

“Ons het onlangs aan ‘n veldskietkompetisie deelgeneem waar daar ses bane in iemand se veld op sy plaas uitgelê was. Daar was vier teikenbane en twee gongbane met vyf gongs per baan. Dit was baie genotvol.

“Die afstande van die bane wissel en die skuts moet self die verskillende afstande bepaal.”

Hy vertel dat daar baie skietkompetisies is waaraan hy deelneem en dat die Nasionale konfederasie van Jagtersverenigings van Suid-Afrika(Chasa) se jaggeweerkompetisie een van die aangenaamste is.

Sy grootste mededinger op die skietbaan is een van sy vriende, en hy vertel dat om baie kompetisies te wen en pryse te ontvang een van die moeilikste, maar genotvolste maniere van tydverdryf is.

Hy is ook aangewys as die skut van die jaar. Daarby het hy ook ‘n eerste plek met intertakskiet, ‘n tweede plek in die Chasa .22 nasionale sportskietkompetisie en ‘n derde plek in die Chasa jaggeweer ope klas sportskietkompetisie behaal.

Rudie is lid van die Bosveld Jagtersvereniging Interverenigingskietspan en lid van die Chasa uitnodigingskietspan.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitteri
Exit mobile version