Ayden: swem is sy passie

Ayden bewonder swemmers soos Lyndon Ferns en vertel dat Michael Phelps sy held is.

POLOKWANE – Gemakliker as ‘n vis in water kan Ayden Jordaan (12) nie wees nie en hy vertel trots dat die swembad sy gunsteling plek onder die son is.

“Ek oefen elke oggend, en elke middag swem ek by Eagar Aquatics Swimming Academy, en dan oefen ek so een of twee middae ‘n week atletiek ook,” vertel die gr.7-leerder van Laerskool Pietersburg Oos.

Ayden het op 14 Januarie vanjaar die Mpumalanga Tweekampkampioenskap gewen.

Hy vertel dat hy 1 200 m moes hardloop en, na ‘n rustyd, 100 m moes swem.

Om te kwalifiseer om in April aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Kaapstad te gaan deelneem, moes hy ten minste 2 000 punte opstapel. Hy staan reeds op 2 300 punte.

“Alhoewel ek ook rugby en hokkie speel, verkies ek swem. Ek het verlede jaar vir Oosskool se eerste span by die Kia Reeks uitgedraf asook die skool se tweedehokkiespan. Ek het ook onlangs die 1 500 m by die P1 Interlaerskole Atletiek gewen.”

Ayden vertel dat dit soms moeilik is om te swem aangesien jy jouself moet druk om beter te doen. Hy vertel dat hy vroeg moet opstaan elke oggend om te oefen en dat hy daarvan droom om Olimpiese Spele toe te gaan. Hy berei tans voor vir die Suid-Afrikaanse Junior Nasionale Kampioenskappe wat van 15 Maart in Durban gehou word. Hy het reeds vir agt items gekwalifiseer.

“Ek geniet vryslag en vlinderslag baie en het reeds op 10 begin swem. By die kampioenskappe in Durban gaan ek nie aan alles deelneem waarin ek kwalifiseer nie, aangesien my tyd min gaan wees. Ek sal nog besluit watter style ek gaan swem.”

Ayden sê swem leer hom dissipline aangesien hy kan sien hoe ander swemmers hom gaan inhaal wanneer hy nie oefen nie. Tog is dit ook sy motivering wanneer hy sien hoe hy verbeter in die sport as gevolg van harde oefening. Die lekkerste van swem is om oral te reis en nuwe plekke te sien en ook al die nuwe vriende wat hy maak.

“Dit is vir my baie lekker om te wen, maar ‘n mens moet nederig en positief bly. Ek wil graag ander kinders motiveer om ook te begin swem. Dit is ‘n gesonde sport en maak jou fiks. Ook maak dit jou geestelik sterk. Wanneer jy daar moet staan voor jy in die water induik, is dit jy en jy alleen.”

“Ek wil graag vir my ouers sê dat ek hul ondersteuning waardeer. Hulle is altyd positief en hulle staan saam my vroeg op en oefen saam met my. Ek is ook baie dankbaar vir oom Dougie Eagar en Juffrou Rika Fuchs vir al hulle moeite wat hulle met ons doen. Sonder hulle sou ek nie so goed gewees het nie.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version