Local sportSport

Eben na Bulgarye

Eben hou die meeste van floret en degen en dit is juis in die twee afdelings wat hy gekies is om in die o/20-ouderdomsgroep mee te ding

Kleintyd was dit ‘n speelgoed swaard, maar nou die ware Jacob wat Eben Wagner met meesterlike grasie hanteer wanneer hy teen ‘n opponent veg.

Eben (16) van die Eresabelskermklub op Mokopane is pas gekies om in Bulgarye aan die Junior Skermwêreld-kampioenskappe te gaan deelneem. Sy oë straal en hy glimlag breed waar hy in die voor-portaal van Hoërskool Piet Potgieter die aap uit die mou laat oor die groot eer wat hom te beurt geval het.

Andrew Howitt en Eben Wagner. Foto: Verskaf

Hoewel skerm in Suid-Afrika relatief klein is met sowat 800 mense wat dit beoefen, is daar in Amerika tot 600 000 skermers. By die Junior Skermwêreldspele van 1 tot 10 April kry Eben dus kans om teen die top skermers van lande soos Korea, Italië, Engeland en Frankryk sy vernuf te wys waar die kompetisie uiters hoog is.

Eben hou die meeste van floret en degen en dit is juis in die twee afdelings wat hy gekies is om in die o/20-ouderdomsgroep mee te ding. Hy gaan ook in die o/17-degen-afdeling skerm.

Eben vertel hy is verlede jaar vir die eerste keer gekies om aan die junior wêreldkampioenskappe deel te neem en dit was ‘n belewenis wat hom altyd sal bybly. Sy mentor en afrigter is Andrew Howitt wat self groot hoogtes bereik het. Verlede jaar het hulle twee saam die groen en goud as spanmaats in Frankryk gedra. “Andrew stel hoë standaarde en ons oefen hard. Ek is opgewonde oor my deelname oorsee al is dit teen skermers wat ouer as ek is.”

Eben Wagner in sy groen en goud.

Eben sê hy kan ook nie wag om die Bulgaarse kultuur en argitektuur eerstehands te gaan beleef nie. Sy ouers, Frik en Christa. bars van trots. Frik sê hulle ondersteun Eben van kleintyd en besef hy gaan sy sokkies moet optrek as hy sy groot doelwit om te kwalifiseer vir die volgende Olimpiese Spele wil verwesenlik.

Skerm verg nie net van jou om fiks te wees nie, maar ook uitstekende konsentrasievermoë en ‘n mens moet kalm kan bly terwyl die adrenalien pomp. Eben oefen so twee ure ‘n dag en is ook ‘n kranige krieketspeler wat vir Piet Pot se eerstespan speel.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button