‘Ace’ skool met tennis

Suidskool en tennis afrigter Sarel van Rooyen het 'n goeie verhouding om kinders te help met die alledaagse lewe en om 'n liefde vir die sport te ontwikkel.

POLOKWANE – Die ontwikkeling van leerders, beide op die sportveld en in die klaskamer, is iets wat Laerskool Pietersburg baie na aan die hart lê.

Dit is juis om dié rede dat die skool die hulp van tennisafrigter, Sarel van Rooyen, ingewin het om hulle daarmee by te staan.

Sarel is reeds langer as 10 jaar betrokke by die ontwikkeling van leerders en het met Review gepraat oor hoe sport leerders se ontwikkeling bevorder.

“Sport, veral tennis, speel ‘n uiters belangrike rol in die ontwikkeling van kinders omdat dit sielkundige ontwikkeling sowel as fisieke ontwikkeling aanspreek.

“Dit leer die kinders van dissipline, hoe om probleme op te los asook die regmaak en bestuur van foute. Daarby leer dit die kinders sportmanskap, iets wat hulle in alle aspekte van hul lewens kan toepas,” verduidelik hy.

Hy vertel navorsing wys dat tennis een van die beste sportsoorte is wat nie net genotvol is nie maar ook tot fiksheid bydra.

Die aard van die spel, van die dien en terugkeer, tot tydrenne maak tennis ‘n aktiewe sport met baie beweging in die begin, stop en rigting verander. Tennis is ‘n kardiovaskulêre aktiwiteit en die bewegings help met die ontwikkeling van balans, beendigtheid en koördinasie.

“Verstandelike fokus word ook verskerp want besluitneming en konsentrasie is nodig elke keer as ‘n bal getref word. Daarby is dit ook een van die veiligste sportsoorte met ‘n baie lae persentasie beserings in vergelyking met ander sportsoorte,” vertel hy.

Sarel verduidelik dat tennis nie baie ondersteuning in die stad en die provinsie geniet nie in vergelyking met ander provinsies waar daar meer gereeld groot toernooie gespeel word. Daarom hou Sarel sy eie toernooie om ‘n liefde vir dié sportsoort aan te moedig.

“Die grootste fout wat ouers kan maak is om meer te verwag van hul kinders as om net lekker te speel. Sodra ‘n kind begin om te speel vir ‘n ouer se goedkeuring of om harmonie in die familie te onderhou, sal hul motivering en pret onmiddellik verminder, maak nie saak hoe talentvol hul is nie.

“Baie jong spelers met potensiaal verloor belangstelling in die sportsoort as gevolg van hul ouers en baie potensiële tennissterre het verskiet oor dié redes,” verduidelik hy.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version