Damian toer Portugal vir sewes bokkieweek

"Ek was so opgewonde vir die geleentheid, ek kon byna nie glo ons was regtig op pad Portugal toe nie."

POLOKWANE – Damian Viljoen is verlede jaar Julie gekies om aan die Nasionale Sewes Bokkieweek in Pretoria te gaan deelneem.

Dit is hier waar sy potensiaal in dié sportsoort raakgesien is en hy is tot die nasionale span verkies. Gedurende Desember het die span na Portugal getoer waar hulle hulle kragte teen spanne van ander lande gemeet het.

“Ek was so opgewonde vir die geleentheid, ek kon byna nie glo ons was regtig op pad Portugal toe nie. Die werklikheid van die situasie het eers behoorlik deurgedring toe ek op die lughawe was,” vertel hy blinkoog.

Sy pa, Marcus, sê Damian was baie stil op pad na die lughawe. “Eers toe ons by OR Thambo indraai het hy vir my gesê dit voel of sy maag bollemakiesie maak,” onthou sy pa.

Tydens hul besoek aan Portugal het die span aan vier toernooie deelgeneem en hulle het altesaam 12 wedstryde gespeel waarvan hulle 10 gewen het. Damian het sewe drieë gedruk en 37 punte aangeteken, hy was ook as die speler van die toernooi aangewys.

“Die ondervinding was ongelooflik, dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Ons het die Agronomia Rugby Club, Rugby da Associacao Academica (AAC), Cascais Rugby Club en Rugby De Desporto universidale Do Porto (COUP) besoek waar ons teen ander lande gespeel het. Tydens ons besoek het ons ‘n staptoer deur Porto, verkenningsuitstappie van al die groot en ou kerke van Europa soos die Dom Luis Bridge en Porto Cathedral, en ook ‘n tuk-tuk toer van Lisbon gehad.”

Stede wat hulle besoek het was Lisbon, Porto en Coimbra.

“Die kos was nie vir my lekker nie maar om in hotelle te bly en baie nuwe dinge te beleef was wel vir my iets besonder,” voeg hy by.

Damian se ma, Rushka, vertel dat Damian ‘n beurs van Momentum af ontvang het vir sy rugbyvernuf toe hy nog in die laerskool was.

“Ons het aanvanklik gedink dit was net ‘n gelukslag, maar almal sien sy talent raak. Hy was genader deur die Hoërskool Ben Vorster vir ‘n rugbybeurs en is vanaf hierdie jaar een van die skool se nuwe leerders,” vertel sy trots.

maretha@nmgroup.co.za

Exit mobile version