Johan van Graan se ryk geskiedenis

Die groter deel van die jonger geslag ken waarskynlik vir regsman Johan van Graan (70) as een van die Park Runners wat hulle Saterdae sien saamdraf.

POLOKWANE – Maar vir talle inwoners is hy bron van ‘n ryk geskiedenis en ‘n ensiklopedie van regskennis.

Van Graan het in Soweto aan Meadowlands Primêre Skool opleiding ontvang, waarvandaan hy saam met sy familie verhuis het en in ‘n kleiner laerskool skoolgegaan het.

“Die gr. 4 tot gr. 7-leerders was almal in een klas. Dit het vir my ‘n groot voorsprong gegee want ons het alreeds al die werk van die hoër grade geken,” meen hy.

Van Graan was daarna verbonde aan die Hoërskool Monument waar hy van vroeg af reeds in die regte begin belangstel het.

“Tydens my hoërskooljare was ek die top leerder in my skool en ek was ook een van die jongste hoofseuns in die skool se geskiedenis op die ouderdom van 16,” vertel Van Graan.

Na hoërskool het hy ‘n B. Com-graad verwerf aan die destydse Pukke, nou Noordwes Universiteit, en het later sy LLB-graad aan dieselfde universiteit voltooi.

Hy was sedert 1969 ‘n advokaat in die Hooggeregshof van Suid-Afrika en sluit ook aan by die Departement van Justisie.

In dieselfde jaar dien hy as staatsaanklaer in die Johannesburg Landdroshof en dien in die periodieke howe in Hillbrow, Auckland Park, Jeppe, Soweto en talle ander.

In 1970 het hy verder gedien as ‘n militêre regsoffisier met die rang van luitenant.

In 1971 het hy as staatsadvokaat by die Prokureur-Generaal van Natal gewerk, en in 1972 word hy aangestel as senior lektor in publiekreg aan die Universiteit van Zoeloeland. In 1975 word hy aangestel as departementshoof van die nuwe Departement Straf en Prosesreg; en vanaf 1978 is hy verder aanvaar as senior lektoraat in Publiekreg aan die Universiteit van die Noorde.

In dié tyd het hy steeds as ‘n advokaat gepraktiseer en het hy vele bekende sake hanteer.

Een van die bekende sake sluit ‘n 50-daelange moordsaak in wat Van Graan beskryf as een van die langste sake wat ooit in Tzaneen aangehoor is.

Verder het hy ook ‘n groot saak aangepak waar drie mans ‘n trein van bykans R1,5 miljoen beroof het.

“Tydens die roof het een van die mense so bang geraak dat hul tot hul dood van die trein afgespring het, so ‘n saak van moord was ook teen die aangeklaagdes oopgemaak.” Hy het ook saam met ‘n paar van die ander advokate in Polokwane ‘n nie-amptelike balie gestig, (Verre-Noord Balie) en word verkies as die eerste voorsitter van dié balie.

Gedurende sy tyd as voorsitter van 1986 tot 1987 het hy getuig voor die kommissie vir ‘n hooggeregshof wat in Polokwane gestig sou word. Ongelukkig was dit nie goedgekeur tydens daardie tydperk nie maar, sowat sewe jaar gelede was die amptelike opening van die Polokwane Hooggeregshof goedgekeur.

In 1989 bedank hy as voorsitter en na 20 jaar van advokaat wees besluit hy om as prokureur te werk omdat daar volgens hom, meer geleenthede in die veld was.

Van Graan het in 2001 sy LLM-graad ontvang, ook as top student in dié rigting.

Hy het ‘n regshandboek geskryf, naamlik Interpetation of Legislation en ook ‘n opvolguitgawe.

Hy spog dat hy een van die grootste regsbiblioteke in Polokwane het.

“Ek het die regsboeke van sake wat so ver terugdateer as in 1828,” vertel hy trots.

Een van sy kosbaarste besittings is die regsboek, Rivonia wat handel oor die volledige verhoor teen Nelson Mandela. “Ek is baie seker dat daar min mense is wat die spesifieke boek in hul besitting het.”

Hy het in 2011afgetree maar is genader om tot 2013 verder te werk en daarna finaal af te tree.

Van Graan het drie kinders wat almal ook heelwat sukses bereik het.

“My dogter Ilsphi Brown, is ‘n mediese dokter wat ‘n gespesialiseerde dermatoloog in Australië is, my seun Wouter, is ‘n gespesialiseerde ortopediese dokter, en my ander dogter Lizé, is ‘n dieetkundige,” vertel die trotse pa.

Van Graan vertel dat hy tans sy vrye tyd saam met familie en vriende deurbring, graag draf en ook kampeer.

calvyn@nmgroup.co.za

Exit mobile version