Bosveld SportLocal sportSport

Swem is Raymond se forté

Eeen van Tuks Mokopane Swemklub se top swemmers droom daarvan om eendag Suid-Afrika in die water by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

MOKOPANE – Die 16-jarige Raymond Kockott het vir die eerste keer die water in Qatar op vyfjarige ouderdom getoets, maar ‘n gróót liefde vir die sport is egter eers hier op eie bodem ‘n paar jaar later by hom gekweek.

Raymond vertel nadat hulle vir ‘n paar jaar in die buiteland gewoon het en weer in Mokopane kom nesskrop het, het sy ma hom in Augustus 2012 by die Tuks Mokopane Swemklub ingeskryf. “Die swemgogga het my amptelik einde 2014 gebyt en vandaar is swem my forté.”

Die belowende swemmer spog reeds met sowat 130 medaljes en sy Provinsiale kleure. Hy het ook al menigte kere die Lim-span verteenwoordig. Raymond het verlede naweek na ‘n maand se ‘verpligte verlof’ sy vernuf tydens die Limpopo Kampioenskappe in Polokwane op die proef gestel en drie brons – en ‘n silwer medalje losgeswem.

Twee geleenthede in sy swemlloopbaan, wat vir hom uitstaan is die Vlak 2 gala verlede jaar waar hy 9 medaljes (sewe silwer en twee brons medaljes) verower het en die jaar se Vlak 3 Gala waar hy teen die room van die land meegeding het. Terwyl die vlinderslag as een van die mees uitdagendste style bestempel word sê Raymond hy geniet die tegniek asook die vryslag die meeste. Gesoute swemmers meen dat die vlinderslag ‘n goeie tegniek, ondervinding asook spiere vereis. Raymond sê hy mik daarna om in 2020 die land by die Spele in beide die vlinder- en vryslag te verteenwoordig.

Die skrywer, Daniel Chambliss het een keer gesê dat topatlete op klein besonderhede konsentreer en hulle deeglik oefen. “Klein verskille wat deeglik geoefen word sal ‘n verskil maak. By die Olimpiese Spele is die verskil tussen die wenner van ‘n goue medalje en die wat geen medalje kry nie, dikwels net honderdstes van ‘n sekonde, só oefen.”

Die swemmers van Tuks Mokopane stem sonder twyfel saam met Chambliss se mening, want hulle oefen reg deur die jaar, vyf dae ‘n week en in die somer tot twee keer ‘n dag. Raymond is tans hard aan die oefen vir die SA Junior Nationals wat in Maart plaasvind en hy hoop om ook vir die SA Youth Nationals te kwalifiseer. Hy is ook van die mening dat indien jy die vrugte wil pluk moet jy daarvoor werk, daarom moet jy oor hope selfdissipline beskik en nie net fisies sterk wees nie, maar ook geestelik.

Raymond vertel hy het al talle vriende van heinde en verre by die verskeie galas gemaak en dat die gees onder die swemmers tydens so ‘n geleentheid staties is. “My hart klop gewoonlik die vinnigste net voor ek op die duikblok klim, maar wanneer die skoot klap dof ek die geraas uit en fokus ek op die eindpunt. Ek hoor soms my afrigter, Awie Hattingh fluit en dan weet ek, ek moet nog vinniger swem.” Hy sê Hattingh is ‘n ongelooflike mentor wat die swemklub al menigte maal tot groot hoogtes gelei het. “Ek is ongelooflik dankbaar vir al my afrigter se harde werk en ondersteuning,” sê Raymond.

In die water kyk hy op na die Olimpiese medaljewenner, Michael Phelps en uit die water inspireer, Nick Vujicic, die man wat sonder arms en bene gebore is, hom om nooit handdoek in te gooi nie en om ten alle tye dankbaar te wees.

Raymond sê hy tap ook inspirasie uit Mohamed Ali se woorde: “I hated every day of training, but in the end it paid off.” Bosveld wens die belowende swemmer alle voorspoed toe en ons hoop om hom in 2020 by die Spele te sien.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button