Krugies wéér gholfkampioene

Laerskool Krugerpark het Dinsdag vir die tweede agtereenvolgende jaar die Interlaer Gholfkampioenskappe (Streek 1) op eie bodem by die Kameeldoring Gholfklub gewen.

MOKOPANE – Altesaam 28 spelers van sewe skole regoor Limpopo het sake op die gholfbaan uitgespook. Percy Hawken, Declan Brews, Johanco Welgemoed en Ryan Nel van Laerskool Krugerpark het met ‘n totaal van 49 punte met die louere weggestap. Die span van Laerskool Julian Muller in Groblersdal is as naaswenners met ‘n totaal van 34 punte vereer en die span van Laerskool Bosveld in Lephalale het ‘n derde plek met 13 punte losgeslaan.

Percy, Declan, Johanco en Ryan het vir ‘n ysterspel gesorg en só ‘n plek in die Provinsialespan, wat later vanjaar aan die Limpopo proewe gaan meeding, bespreek. Die gedugte span van Laerskool Krugerpark het ook vroeër vanjaar die Ernie Els SA Laerskole Kampioenskappe gewen en dus is hulle ‘n span om mee rekening te hou. Percy, Declan en Johanco speel al vir meer as vier jaar saam en Ryan het onlangs by die span aangesluit, saam is hulle ‘n wenresep.

DIE vaardige gholfers is vir die Provinsiale span gekies wat later vanjaar aan die Limpopo proewe gaan deelneem. Van Laerskool Krugerpark (in blou) is Johanco Welgemoed, Percy Hawken, Declan Brews en Ryan Nel gekies.

lionel@nmgroup.co.za

 

Exit mobile version