Bosveld SportLocal sportSport

Vlieëniers trotseer wind en weer met vernuf

Hoog bo die wolke oppad na die Afrikabekerkampioenskappe in Hazyview het Potties se mikroligtevliegtuig-vlieëniers weer besef hulle is aangewese op die weerstoestande en sake verloop nie altyd soos wat beplan is nie.

MOKOPANE – Ondanks die digte wolke en sterk wind wat die vlieëniers verhinder het om aan die eerste been van die Afrikabekerkampioenskappe deel te neem, was dit ‘n naweek van goeie samesyn, die vier van Pierre Visser se algehele derde plek en die lekkerte om vir die tweede agtereenvolgende jaar die geesbeker huis toe te bring. Daarby het Nico Willemse (jnr.) ook ‘n toekenning gekry as die jongste deelnemer en is geprys vir sy goeie vliegvernuf in gure weersomstandighede.

Nico Willemse (snr.) van Potties Vliegklub vertel hy en sy mede-vlieëniers, Willie van der Merwe, Martin van Tonder, Pierre Visser, Gawie Labuschagne en sy seun Nico, het verlede Vrydag vroegoggend met hulle mikroligtevliegtuie opgestyg vir die eerte skof tot op Burgersfort.

“Dit was ‘n lekker vlug en ons het tot op 9 500 voet geklim om veilig oor die Winterveldberg te vlieg. Die sigbaarheid was maar sleg met die son van voor. Vandaar het ons oor die berge by Orighstad gevlieg met Pelgrimsrus en Graskop in ons visier. Ons het tot naby Graskop gevlieg maar dit was duidelik daar was nie gate in die wolke om deur te breek nie en ons het besluit om eerder terug te draai en te vlieg tot waar ons kon land. Die wind het ook sterk begin waai en die beste sou wees om te wag vir die son om die wolke oop te maak.

“Terug in die Origstad-omgewing het ons langs ‘n pad op ‘n plaas geland waar daar mielies geplant is. Die landingplek was tussen die berge en ‘n sterk dwarswind het gewaai.”

Willemse sê die vlieëniers se span op die grond het later by hulle aangesluit en daar is ekstra brandstof, kos en drinkgoed gekoop. “Die hele groep het uitgespan en sowat ses ure later nadat die son almal goed bygekom het en die wind bedaar het, kon die vlieëniers weer opstyg.

Die vlieëniers het teen sononder uiteindelik veilig by die Numbi vliegveld op Hazyview geland en kon die volgende dag aan die laaste deel van die kampioenskappe deelneem.

Willemse sê baie van die vlieëniers het weens die wind en lae wolke besluit om nie aan die vliegkompetisie deel te neem nie, maar Potties Vliegklub se vlieëniers het als ingesit en Pierre Visser het ondanks sy nie-deelname die vorige dag met ‘n spog algehele derde plek weggestap.

Niks kon die goeie gees van die span blus nie en die geestrofee is terug waar hy hoort, sê Willemse.

 

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button