Morné die uitblinker

Morné Henning het op die skrale ouderdom van 13 al meer prestasies in sport behaal as meeste leerders in sy ouderdomsgroep.

POLOKWANE – Morné, ‘n leerling by Oosskool, vaar goed in atletiek, landloop, rugby, krieket asook aksie-krieket.

“Ek het met atletiek, landloop, rugby en krieket begin toe ek in gr. 3 was en aksie-krieket toe ek in gr. 5 was. Ek het verlede jaar ook met tweekamp begin,” vertel hy.

“Ek het hierdie jaar aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe deelgeneem en vir die eerste keer Limpopo kleure in atletiek ontvang.”

Morné het tydens die afgelope Super-12 Laerskole atletiek byeenkoms ‘n goue medalje in die 1 200 m gewen, ‘n silwer medalje in die 800 m en Limpopo kleure vir die 1 500 m ontvang.

Tydens die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe het Morné ‘n negende plek in die 1 500 m en ‘n agste plek in die 800 m losgehardloop.

Hy was ook derde op die lys van die top-20 presteerders by die byeenkoms en het ‘n brons medalje gekry.

“Ek het reeds drie keer Limpopo kleure verwerf vir landloop en drie keer deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Landloop Kampioenskappe. My beste plek was negende in Suid-Afrika,” vertel hy.

Morné speel al reeds twee jaar vir die skool se eersterugbyspan en was ook die afgelope jaar kaptein van die span. “Ek het hierdie jaar ook Limpopo kleure verwerf vir rugby en is gekies vir die Nashua 15-tal wat in Sasolburg plaasgevind het. Ek is ook tydens een wedstryd aangewys as speler van die wedstryd.”

Morné het Limpopo kleure vir krieket verwerf en speel al vir twee jaar vir die skool se eerstespan. In aksie-krieket het hy al aan ‘n interprovinsiale toernooi deelgeneem en is aangewys as beste bouler in die toernooi. “Aksie-krieket is anders as gewone krieket omdat die veld kleiner is so jy is half benoud. Ek het dit probeer aangesien dit iets nuuts was en dus ‘n nuwe uitdaging. Ek het ook aan tweekamp, hardloop en swem deelgeneem in Marble Hall waar ek ‘n paar eerste plekke gewen het,” bieg hy.

Morné maak skoonskip op die veld en in die klaskamer. Hy het die afgelope twee jaar ere kleure vir akademie ontvang.

“My gunsteling vakke is wetenskap en sosiale wetenskappe. Ek gaan volgende jaar na die Afrikaanse Seuns Hoërskool in Pretoria. Ek voel ek sal daar meer met my sport kan presteeer.

“Na skool wil ek graag in die sportwese ingaan of veeartsnykunde studeer.”

Hy spandeer graag tyd saam met vriende of sy meisie, Louise du Preez.

Micke Crouwkamp, sy landloop afrigter vertel dat Morné ‘n toegewyde leerder is wat altyd sy beste gee.

maretha@nmgroup.co.za

Exit mobile version