Lim se nuwe kampioene!

Die vonkelwynproppe het behoorlik geklap nadat Potties se eersterugbyspan verlede Saterdag as Limpopo Klubkampioene gekroon is.

MOKOPANE – Potties speel vanjaar kookwaterrugby en maak geskiedenis op die veld. Die span wat die Boet Fick Seniorliga onlangs gewen het deur met Noordelikes van Polokwane in die eindstryd af te reken, het die Northam Rhino’s wat die Waterbergliga gewen het, met 20-16 verslaan.

Die Rhino’s was teen rustyd met 16-3 voor, maar in die tweede helfde het die streeptruie die krane oopgedraai en gewys hulle kan terug baklei. Die flank, Deon Klein, het eerste agter die doellyn gedruk en daarna het Hans du Plessis na ‘n prag aangee van Casio de Sousa ‘n beurt gekry. Die losskakel, Jan Vorster, het albei die drieë verdoel en ook met twee strafskoppe geslaag.

Die oorwinning beteken die streeptruie kry die kans om komende Saterdag om 15:00 op Klerksdorp teen Vaal Reef se eerstespan uit te draf. Sou hulle wen, kwalifiseer die span om aan die Gold Cup (die ou Community Cup) deel te neem.

Dis die eerste keer sedert 2012 wat Potties buite die grense van Limpopo speel en die manne is opgewonde oor die uitdaging. Die klub bedank hulle borge wat dit moontlik maak dat hulle op die veld kan uitdraf en al hulle lojale ondersteuners.

 

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version