Klein botteltjies hou groot gif

14-jarige Leandri Peyper spog met 'n tweede dan junior swart belt.

POLOKWANE – Dié gr. 8-leerder van HTS Tom Naudé beoefen skopboks al sedert haar gr. R-jaar waar sy in haar ouer suster en ma se voetspore volg. Sy is lid van die Limpopo Karate and Kickboxing Club wat aan Nico Myburgh behoort.

“My mikpunt is om ‘n sesde dan junior swart belt te kry want ek is nog jonk genoeg om dit te kan bereik. Sodra ek 18 word of ‘n junior sesde dan bereik sal ek as ‘n senior kan deelneem,” vertel sy.

Alhoewel sy al ‘n paar keer deurgeloop het en ‘n bloedneus of twee gekry het, het sy nog geen ernstige beserings opgedoen nie.

“Vir my is die lekkerste deel van skopboks om te weet ek kan myself beskerm. Alhoewel ons nie skopboks mag gebruik om eerste aan te val nie, mag ons dit wel gebruik as verdediging.

“Een van die minder lekker dele van skopboks is wanneer jou opponent nie beheer het oor hulle houe nie en dan te hard tref wanneer hulle aanval, dinge kan dan partymaal ‘n bietjie rof raak. Vir my is die moeilikste aspek van skopboks om te gradeer, dit is ‘n tydsame en moeilike proses.”

Leandri vertel dat skopboks verskeie tipes oefeninge insluit, onder andere kardiologiese oefening om hulle fiksheid te bevorder, en katas om nuwe tegnieke te leer en te oefen.

“Ek oefen die katas elke dag en het tweemaal ‘n week skopboksklas, verder is ek ook baie lief vir hardloop en padwedlope. Ek het al menigte titels regoor die land gewen maar dit is nie altyd maklik nie omdat ek dikwels een van die kortste en kleinste vegters is. By die onlangse gradering was ek as die Beste Junior Graderingstudent aangewys,” sê sy.

Sy wil graag met wapens begin oefen omdat dit vir haar baie lekker en opwindend lyk.

“Jy moet baie fiks wees om skopboks te kan beoefen, maar dit is baie lekker en die moeite werd omdat dit ‘n mens dissipline asook respek leer.

“Ek sien baie uit na my opkomende skobok-stoernooi in die Kaap en is nou besig om fondse in te samel daarvoor,” sê Leandri met ‘n bree glimlag.

marehta@nmgroup.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version