Editor's choiceLocal sportSport

Pastoor Deon nael voluit!

Deon Jewaskiewitz is 'n bekende pastoor en inwoner van die stad. Bo en behalwe sy liefde vir sy gemeente by die Volle Evangelie Kerk Makarios in Ladanna, het hy 'n groot passie vir atletiek.

POLOKWANE – Deon Jewaskiewitz is ‘n bekende pastoor en inwoner van die stad.

Bo en behalwe sy liefde vir sy gemeente by die Volle Evangelie Kerk Makarios in Ladanna, het hy ‘n groot passie vir atletiek.

Hy het onlangs aan die Gauteng-Noord atletiekbyeenkoms gaan deelneem en weer bewys hoekom hy as Suid-Afrika se nommer een meesters 100 m en 200 m atleet geklas word met twee goue medaljes.

“In die 100 m was die ouens reg langs my, so dit was ‘n moeilike wedloop, maar in die 200 m was ek nog altyd baie sterk en ek was heelwat voor,” sê Jewaskiewitz.

Hy is nie net die nommer een atleet in Suid-Afrika vir die 100 m en 200 m meesters 40 tot 44 ouderdomsgroep nie, maar volgens die meestersatletiekranglys ook nommer een in Afrika.

Op die wêreld ranglys is hy nommer 25 vir 100 m en nommer ses vir 200 m.

Sy persoonlike rekord in die 100 m is tans 10:47 en in die 200 m is dit 21:75 sekondes.

Review het met Jewaskiewitz gaan gesels om uit te vind hoe hy dit regkry om na soveel jare steeds so goed te presteer.

“Ek oefen tans in die oggende by ‘n gimnasium en dan deur die middag oefen ek atletiek,” sê hy.

Hy verduidelik dat atletiek nog altyd ‘n groot liefde was vir die Jewaskiewitz-familie; hy self het al vir baie jare ‘n groot liefde vir atletiek.

“Ek glo daarin dat ‘n skoon en gesonde liggaam ‘n skoon en gesonde siel het en mens moet hard oefen en werk om gesond te bly.

“Ek het nog nooit gerook of gedrink nie en ek eet ook baie gesond,” sê Jewaskiewitz.

Hy sê die jonger atlete spoor hom aan om harder te werk en meer te oefen.

Hy mik steeds om hulle te klop en sy posisie te behou. Hy sê ook dat dit als te danke is aan die Here se genade dat hy elke dag kan opstaan en voluit leef.

“Ek is niks sonder die Here nie en ek kan nie vir een oomblik sonder Hom leef nie,

“Hy is my krag en die hoofrede hoekom ek nog al die jare kan hardloop,” sê Jewaskiewitz.

Twee van sy rolmodelle is Kim Collins en Tyson Gay wat self twee wêreldberoemde atlete is.

Jewaskiewitz is tans ‘n afrigter by die Prisma Jewaskiewitz Atletiekklub en self nog sterk betrokke by atletiek, hy sê ook dat hy voorberei vir die 2017 wêreld meestersspele wat in Nieu-Seeland plaasvind.

Sy kinders, Zenobea en Zanru, oefen ook onder sy afrigting en is self twee kranige atlete. “Ek moet ook sê deel van die rede hoekom ek nog aanhou al die jare is die kinders wat saam met my oefen.

“Hulle moet sien dat hul afrigter ook goed doen sodat hulle inspirasie kan kry om ook so goed te doen,” sê Jewaskiewitz.

“Dit is vir my ‘n groot eer om ander te help en te leer in atletiek, mens kan al ‘n 100 jaar oud wees maar as jou hart op die regte plek is sal jy nogsteeds atletiek kan doen.

“Ek sê altyd dat as jy hard werk vir dit wat jy wil hê, sal jy die vrugte daarvan pluk,” sê Jewaskiewitz.

Hy sê hy is opgewonde oor die nuwe afrigter wat by hulle gaan aansluit.

George Mehale is ‘n bekende plaaslike afrigter wat die langer afstande se afrigting gaan behartig.

Jewaskiewitz het ook raad aan potensiële atlete. “Jy moet getrou bly en fokus op dit wat jy wil doen en bereik. Jy moet ‘n gesonde leefstyl hê en jou vertroue in die Here plaas,” sê hy.

“In Johannes 15:5 is dit geskryf: ‘Sonder My kan julle niks doen nie’. Die bereiking van ‘n doelwit, vind vir my persoonlik gestalte in hierdie uitspraak, dit is en bly vir my ‘n beskeie leefwyse, selfs in my najaag van drome en doelwitte,” sê Jewaskiewitz.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button