Nadine, Soné deel hulle passie

Nadine Roos (19) en Soné Janse van Rensburg (22) is twee vroue wat 'n passie het vir rugby.

POLOKWANE – Nadine Roos (19) en Soné Janse van Rensburg (22) is twee vroue wat ‘n passie het vir rugby. Hulle speel tans vir die Tuks vroue sewesrugbyspan en hulle het onlangs na Frankryk gereis vir ‘n rugbytoer. Die rugbyspan sal ook later na Dubai reis waar die Suid-Afrikaanse rugbyspan wat gaan deelneem aan die Olimpiese Spele verkies word.

Review het die geleentheid gehad om met Nadine en Soné te gesels oor die motivering en dryfkrag agter hulle liefde om aan ‘n veeleisende kontaksport soos rugby deel te neem. “Jy kry ‘n kans om die wêreld te gaan sien, en mens leer nuwe mense ken en jy vind jouself in die sport, ek geniet dit baie,” sê Soné.

Nadine het al aan verskeie sportsoorte deelgeneem, onder andere netbal, krieket, landloop, cross-fit en rugby. Rugby het as die algehele wenner uit die stryd getree omdat sy ‘n groot liefde vir dié sport ontwikkel het deur gereeld op die plaas saam familie vriende rugby te speel.

Soné vertel dat sy haar talent vir rugby gevind het toe sy vir haar koshuisspan sokker gespeel het. Tuks rugbyspan het haar later genader om vir hulle rugbyspan te speel.

Hulle oefen vier keer ‘n week vir ‘n uur en ‘n half. Soné speel stut en Nadine speel skrumskakel, senter en vleuel.

Oor hulle reis na Dubai en die kompetisie om gekies te word vir die Olimpiese span het hulle die volgende te sê gehad:

“Dit gaan baie moeilik wees omdat daar spanne van onder andere Nieu-Seeland en Australië gaan wees. Hulle rugbyspanne is verskriklik streng, ek het die voorreg gehad om laasjaar teen hul te speel, so ek weet min of meer wat op ons wag,” sê Soné.

“Hierdie is my eerste keer wat ek na Dubai gaan, so ek is ‘n bietjie onseker. Ek weet dit gaan moeilik wees omdat daar baie sterk spanne genooi is. Ek glo dit sal goed gaan, maar ek gaan nogsteeds hard werk en voluit oefen,” sê Nadine.

Hulle sal albei graag in die toekoms met die groen en goud van die Springbok-trui op die veld uitdraf. Soné studeer tans onderwys by die Universiteit van Pretoria en Nadine studeer ekonomiese bestuurs-wetenskappe. Review het hulle later bietjie meer uitgevra oor hulle moeilikste wedstryde.

“Ek persoonlik dink laasjaar in Dubai was baie moeilik, die spanne was sterk en dit was ‘n groot uitdaging om teen hulle te speel,” sê Soné.

“Ek dink my moeilikste wedstryd was in Frankryk, dit was so streng en uitputtend dat ek fisies op die veld gaan sit het, so moeg was ek,” sê Nadine.

“Ons is dalk nie so fisies in die sport soos mans nie, maar daar is ‘n paar vroue teen wie ons al gespeel het wat baie sterk is,” verduidelik Nadine.

Nadine en Soné oefen tans onder die afrigting van Riaan van der Merwe, Conrad Lottering en Wynand van Wyk om aan hulle tegniek te skaaf.

Die twee het ook raad vir mense wat oorweeg om aan die sport deel te neem.

“Dit gaan in die begin vir jou moeilik wees, maar as jy daarop fokus en toegewyd bly, sal jy die vrugte daarvan pluk,” sê Nadine.

Alhoewel dit vroue is wat speel, sê hulle dat die sport nie ligtelik opgeneem moet word nie, en as jy nie van kontaksport hou nie, jy liefs eerder moet verby hou.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version