UFC is Roedie se nuwe mikpunt

Roedie Roets (18) is 'n kranige stoeier en neem deel aan hokgevegte. Hy is ook 'n gr. 12-leerder aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé.

POLOKWANE – Roedie Roets (18) is ‘n kranige stoeier en neem deel aan hokgevegte. Hy is ook ‘n gr. 12-leerder aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé. Met vele prestasies en titels agter sy naam is hy definitief iemand om dop te hou in die toekoms.

Roedie stoei al 15 jaar onder die bekwame afrigting van sy pa, Jan Roets. Jan is tans die hoof-afrigter by die Ion Baciu Stoei Akademie in die stad.

“My pa en Danie Ludick is my twee grootste rolmodelle. Albei rig my af en dit is sover nog net ‘n eer om saam met hulle te werk,” sê Roedie.

Hy het al 20 keer die titel as die nasionale stoeikampioen verwerf, hy was ook die Afrika-kampioen en het die gordel gewen in die liggewig-kategorie by die Fightstar vegkampioenskappe.

Roedie het op skool rugby gespeel, maar het besluit om sy volle aandag aan stoei en geveg te gee. Hy neem al die afgelope sewe maande ernstig deel aan die Fightstar vegklub-toernooie en hy wil graag aangaan met hierdie sport na skool eerder as om verder te gaan studeer.

“Ek wil graag eendag die beste wees in dit wat ek doen, ek wil veral in die groot Ultimate vegkampioenskappe deelneem om die eerste Suid-Afrikaner te wees wat ‘n gordel wen,” sê hy,

Alhoewel hy die sport baie geniet, is dit baie veeleisend en vat dit baie toewyding, sy grootste motivering is sy dryfkrag om te wen. “Om in die spesifieke gewigklasse te baklei vat baie werk, mens moet óf gewig optel, óf verloor óf dit konstant hou, so ‘n mens moet ‘n streng eetplan volg. Dit is ‘n wonderlike goevoel om te wen, om te sien jou harde werk het op iets goed uitgeloop,” sê hy.

Vir Roedie was sy moeilikste geveg sy sewende geveg teen Cole Henning. “Hy is baie goed, hy het my grond toe geslaan in die eerste rondte en ek moes myself weer opbou om hom uiteindelik in die derde rondte te wen,” sê hy.

In sy vrye tyd ontspan hy graag sodat hy weer genoeg energie het vir die volgende oefensessie. Sy raad vir diegene wat belangstel in die sport is om jouself te druk tot die beste van jou vermoë en om dit nie te ernstig op te neem nie, dit is immers ‘n sport en moet geniet word.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version