Local sportSport

Professionele gholfspeler kom neem deel aan die Hanglip gholftoernooi

Review het die geleentheid gehad om met Morné Buys, een van die spelers wat aan die Hanglip 54 toernooi gaan deelneem, te gesels.

LOUIS TRICHARDT – Die jaarlikse Hanglip 54 Toernooi is een van Louis Trichardt se grootste gholfdae.

Plaaslike en nasionale gholfspelers neem deel aan die toernooi op die Soutpansberg se 72-baansyfer gholfbaan. Die baanlengte is 6 254 m vir mans en 5 337 m vir vroue.

Review het die geleentheid gehad om met een van die spelers wat aan die Hanglip 54 toernooi gaan deelneem, te gesels.

Morné Buys is ‘n professionele gholfspeler wat in die Sunshine Tour speel. Morné is woonagtig in die Vrystaat saam sy vrou en drie kinders.

Morné het op die ouderdom van 25 vir die eerste keer in 2003 gholf gespeel. Dit is toe hy sy groot passie vir dié sport ontdek het, en slegs 11 maande later het hy besluit om professioneel gholf te speel.

“Ek geniet gholf, dis ‘n sport wat elke dag nuwe uitdagings het en jou daagliks iets leer,” glimlag Morné.

“Al probleem wat ek ondervind met gholf is die feit dat ek soms vir weke weg van my familie is.

“Die ver ry en ongerief van nie by jou eie huis wees nie, is ook nie lekker nie, maar op die ou einde van die dag is dit alles die moeite werd,” sê Morné.

Vir Morné is die feit dat hy sulke wonderlike ondersteuning by sy vrou en kinders kry baie bemoedigend. “Hulle verstaan dis my werk en die opofferings wat mens daarvoor moet maak, ek waardeer my gesin onsettend baie,” sê Morné.

Hy berou nog nie een dag sy besluit om voltyds gholf te speel nie.

Alhoewel dit nie goedkoop is om professioneel gholf te speel nie, het Morné ‘n baie sterk borg wat hom ondersteun.

“Ek wil graag my borge, Bernard en Nicky Norman, Mark Robert en Kobus Beyers bedank, want sonder hulle is dit nie vir my moontlik om professioneel gholf te speel nie. Dan wil ek ook graag my nuwe afrigter, David Riddle, bedank” sê Morné.

Related Articles

Back to top button