Die appel val nie ver van die boom nie

Kleiduifskiet is 'n sport wat in die are vloei van die plaaslike Greyling-gesin - hulle het self 'n baan van Olimpiese afmetings om te oefen!

POLOKWANE – Kleiduifskiet is ‘n sport wat in die are vloei van die plaaslike Greyling-gesin – hulle het self ‘n baan van Olimpiese afmetings om te oefen!

Die 15-jarige Pieter volg deesdae ewe gemaklik in ma Amelda en pa Faan, se voetspore.

Amelda het al voorheen vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer terwyl sy pa een van die land se top skuts is en reeds elke jaar sedert 2013 na Texas in the VS reis om deel te neem.

Nou is dit Pieter se beurt. Hy het onlangs goud verower in die Suid-Afrikaanse Grand kampioenskappe, in die junior afdeling.

Dit was ook tydens dié laaste proewe wat hy sy nasionale kleure verwerf het.

Hy is tans Suid-Afrika se nommer een in die juniorkategorie en nommer drie in die senior kategorie. Tydens die National Skeet Shooting Association (NSSA) kleiduif-skiet het hy die rekord opgestel as die jongste persoon om vir junior kleure te kwalifiseer – die vorige rekordhouer was 17.

Pieter het die derde posisie in die top vyf in die land opgeraap en ook vir die Suid-Afrikaanse senior span gekwalifiseer wat sy prestasie nog meer merkwaardig maak.

Met al die puik prestasies agter sy naam het die valk-oogskut, nes sy pa, gekwalifiseer om na Texas te reis in Julie, waar hy aan die junior wêreldkampioenskappe gaan deelneem.

In September gaan hy aan die senior wêreldkampioenskappe deelneem.

Pieter sê die kleiduif-skietgogga het van jongs af gebyt – toe hy sewe was en hulle gereeld voëls gaan skiet het.

“My ma en pa is self briljante skuts en ek wil graag in hul voetspore volg.”

Pieter verduidelik dat hy laasjaar besluit het om ernstig aandag aan die sport te gee.

“Dit is al wat hy doen deesdae, of dit nou sy vrye tyd of oefen tyd is, hy is altyd besig met sy kleiduif-skiet,” sê Amelda. Die minimum kwalifiserende punt vir nasionale kleure is ‘n gemiddeld van 92% (920 uit 1 000 kleie) vir junior vlak en 94% (940 uit 1 000 kleie), Pieter het ‘n gemiddeld van 95,6 per 1 000 kleie behaal. “Dit is ‘n ongelooflike prestasie vir iemand van sy ouderdom,” sê Amelda.

Pieter oefen elke tweede dag onder sy pa se wakende oog, op hul eie standaard Olimpiese skietbaan.

“Dit is regtig ‘n eer om deur my pa afgerig te word. Ons spandeer baie tyd saam en ek waardeer dit baie,” sê Pieter.

Hy erken die kompetisie tussen pa en seun bestaan wel, “maar dit is vir my moeilik want my pa skiet gereeld die perfekte 1 000 kleie raak.

“NSSA dubbels is nog ‘n veeleisende dissipline waaraan hulle deelneem: wanneer twee kleiduiwe gelyktydig gegooi word en albei raakgeskiet moet word.

Ook in hierdie afdeling het Pieter ‘n goue medalje teen sy seniors verwerf.

Dié gr. 9-leerder aan PHS spandeer die res van sy tyd aan atletiek en motocross.

Sy doelwit is die 2020 Olimpiese Spele, sê hy.

Alhoewel hy ‘n groot liefde vir die spel self het, is dit die toere en tyd wat hy saam met sy familie spandeer wat hom naaste aan die hart lê.

“Kleiduif-skiet is ‘n wonderlike sport. Daar is geen beter gevoel as wanneer jy die skoot aftrek, die geluid hoor en die klei op só ‘n manier tref dat daar net poeier in die lug oor is nie,” sê hy.

Exit mobile version