Top skermer na Algerië

Vir Danica Opperman (16) is skerm meer as net 'n sport. Dis 'n leefstyl.

POLOKWANE – Vir Danica Opperman (16) is skerm meer as net ‘n sport. Dis ‘n leefstyl. Danica het op 27 Februarie na Algerië getoer waar sy tydens die Junior Afrikaskermkampioenskappe teen Afrika se beste skermers meegeding het.

Sy sê oor die algemeen was die standaard aansienlik hoër as wat plaaslik ondervind word.

“Hulle spoed en fiksheid is ongelooflik,” vertel Danica.

Sy is tans Suid-Afrika se nommer twee in die junior vroue foil, eerste in die kadet vroue foil, sesde in junior vroue Épée en derde in kadetvroue Épée.

Danica het aan 20 gevegte deelgeneem in Algerië, waar sy haar knie tydens een geveg beseer het.

Voor dié voorval het sy egter deurgedring na die direkte uitskakelrondes in Épée maar het uitgeval in dié ronde waar sy haar eerste geveg met 15-14 verloor het.

“My afrigters het aanbeveel dat ek nie verder deelneem nie, ander sou ek,” merk sy op.

Haar ligament is intussen herstel, maar sy sal eers volgende jaar weer kan meeding.

“Ek het baie in Algerië geleer en dit het van my ‘n sterker skermer gemaak.”

Sy vertel sy het baie nuwe vriende gemaak tydens die kampioenskappe. Terwyl sy haar jonger broer, Louis, touwys maak in die kuns van skerm, droom Danica daarvan om eendag aan die Olimpiese Spele en die Statebondspele deel te neem.

Exit mobile version