Local sportSport

Geen keer aan dié vuurvreter vegter

HANRU BOTHA van Mookgophong is eenparig deur drie beamptes aangewys as die wenner van die Extreme Fighting of Cage fighting, (EFC) 38 in Durban verlede naweek.

MOKOPANE – HANRU BOTHA van Mookgophong is eenparig deur drie beamptes aangewys as die wenner van die Extreme Fighting of Cage fighting, (EFC) 38 in Durban verlede naweek.

Die 25-jarige Hanru was onoorwonne in al drie rondes van sy geveg teen Thyson Chellin van Durban met ‘n 4-2 rekord. Hanru is ook tans die deelnemer wat die grootste kans staan om die gordel in die veergewigafdeling te verower.

Die byeenkoms word oor 80 lande uitgesaai en is steeds te sien op Supersport.

“Dit maak my, ‘n jarelange inwoner van die Bosveld trots om te sien dat jy van ‘n klein dorpie soos Mookgophong kan kom en op nasionale vlak kan meeding en puik resultate kan oplewer,” sê Rudi Botha, Hanru se pa en afrigter.

Hanru se stoeivernuf tel beslis tot sy voordeel in die kryt en met kranige afrigting sewe dae ‘n week, staan Hanru ‘n goeie kans om die titel te wen.

“Dit is harde werk, maar elke geveg is ‘n nuwe uitdaging en my vaardighede word getoets,” sê Hanru.

Pierre, Hanru se tweelingboetie, is ook ‘n vurige vegter en het nie aan die EFC 38 deelgeneem nie, omdat hy aan die Springbokproewe in stoei deelgeneem het.

Pierre het ‘n eerste plek behaal en sal Suid-Afrika later vanjaar met trots verteenwoordig by die Afrika Spele in die Kongo.

“Ek is baie trots op albei my seuns se puik prestasies,” sê ‘n trotse Rudi.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button