Editor's choiceLocal sportSport

Ockert is koning van Ebenezer

Ockert Vermeulen (17) is 'n doelgerigte swemmer wat alles insit om uiteindelik sy droom te bereik; om volgende jaar aan die Olimpiese Spele deel te neem.

POLOKWANE – Ockert Vermeulen (17) is ‘n doelgerigte swemmer wat alles insit om uiteindelik sy droom te bereik; om volgende jaar aan die Olimpiese Spele deel te neem.

Hierdie gr. 12-leerder van Curro Heuwelkruin het op 21 Maart bewys dat hy ‘n swemmer is om mee rekening te hou en is nou die nuwe rekordhouer van die Ebenezer Myl oopwater swemkompetisie.

Die vorige rekord is opgestel deur Kenneth Smith in 2006 en Ockert het hierdie tyd met ‘n ongelooflike 23 sekondes verbeter. Sy amptelike tyd is 19 minute en 7 sekondes.

Ockert sê hy is besonder trots op hierdie prestasie.

“Ek het al vantevore swem-rekords opgestel, maar nog nooit een in so ‘n groot en gewilde kompetisie nie. Dit beteken vir my ongelooflik baie. Ek het glad nie verwag dat ek ‘n rekord sou opstel nie, daarom is ek ekstra trots op hierdie prestasie,” sê hy.

Nie net het hy ‘n rekord opgestel vir die myl nie, hy het ook die 300 m kompetisie gewen.

Ockert vertel dat sy swemloopbaan 11 jaar gelede begin het toe sy buurvrou begin het om hom af te rig.

Hy sê hy het aanvanklik nie baie in die sport belanggestel nie, maar nadat hy na die Olimpiese Spele op TV gekyk het, het hy ‘n hernude ywer ontwikkel.

“Ek het weer in alle erns begin oefen en my afrigter het vir my gesê dat ek talent het.

“Ek het haar egter nie geglo totdat ek aan my eerste swemgala deelgeneem het en elke item waaraan ek deelgeneem het gewen het nie,” vertel hy.

Die swemster dra vir die afgelope ses jaar trots sy Limpopo-kleure vir swem en het ook verlede jaar aan die Suid-Afrikaanse skolekampioenskappe deelgeneem waar hy vyf brons en ‘n silwer medalje losgeswem het.

Tans konsentreer Ockert net op sy swemloopbaan en neem aan geen ander sportsoorte deel nie.

Hy neem deel aan die 100 en 400 m vryslag en vlinderslag. Sy afrigter is Douggie Eagar van die Eagar Aquatics Club.

“Ek het die afgelope jaar ‘n bietjie gesukkel om my tye te verbeter, maar dit lyk of die probleem nou opgelos is nadat ek die Ebenezer Myl gewen het,” sê hy.

Ockert oefen nou vir die senior nasionale swemkampioenskappe wat in April in Durban sal plaasvind.

Sy rolmodel en held is Chad le Clos en hy droom daarvan om volgende jaar aan die Olimpiese Spele en in 2018 aan die Satebondspele deel te neem.

Hy sê swem het ook ander voordele, soos om sy gemoedstoestand te verbeter.

“My ma vra altyd vir my hoe kan ek so kalm bly in enige situasie. Dan sê ek vir haar dis te danke aan die swem. Om te swem kalmeer my en maak my kop skoon. Dit is ‘n wonderlike sport.

Related Articles

Back to top button