Editor's noteLocal sportSport

Wêreldroem wink vir dié vinnige blits

Mauritz Pretorius (17) is n skitterende atleet en rugbyspeler van formaat.

POLOKWANE – Mauritz Pretorius (17) is n skitterende atleet en rugbyspeler van formaat.

Hierdie gr. 11-leerder van Curro Heuwelkruin sê sport was nog altyd deel van sy lewe, en dat sy ouers en onderwysers reeds in gr. 1 agtergekom het dat hy talent op die atletiekbaan toon.

“Later het ek ook begin rugby speel en, omdat ek vinnig op die veld is, het ek vleuel gespeel,” vertel hy.

Mauritz sê die fisiese uitdagings wat rugby bied, dien as aanmoediging vir hom om aan te hou speel en altyd daaraan te werk om sy spel te verbeter.

Hy het op laerskool en hoërskool vir sy skool se eerstespanne gespeel en ook vir die o/13-Limpopospan uitgedraf.

Op die atletiekveld is Mauritz ook ‘n ster en hy neem deel aan 100 m, 200 m, 400 m, spiesgooi en verspring op nasionale vlak.

Een van Mauritz se trotsste oomblikke was toe hy in gr. 5 die Suid-Afrikaanse rekord in die 80 m vir seuns o/11 opgestel het.

Sy persoonlike rekord vir 100 m is 10,98 sekondes en vir die 200 m slegs 22,5 sekondes.

Mauritz oefen vier dae per week aan sy atletiek onder die afrigting van Danie Roux.

Hy vertel hy wil graag in gr. 12 aan die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe deelneem en kwalifiseer vir die junior wêreldkampioenskappe waar hy graag ‘n impak wil maak.

Hy wil ook vir die Coca-Cola Cravenweek se Limpopo o/18-sewesspan uitdraf volgende jaar.

Na skool wil hy argitektuur studeer en een van Suid-Afrika se beste argitekte word.

Mauritz sê sy sporthelde is Tyson Gay en John Blake, omdat beide skitterende atlete uit arm families kom, maar nooit toegelaat het dat hul omstandighede in die pad van hul drome staan nie.

Related Articles

Back to top button