Local sportSport

Stoeiers vat vas in kryt

Monique Venter (15) van die Potgietersrus Stoeiklub het drie gevegte tydens die Suid-Afrikaanse Jeug- en Juniorstoeikampioenskappe in Pretoria oortuigend gewen.

MOKOPANE – MET twee valle en op ‘n tegniese punt het Monique Venter (15) van die Potgietersrus Stoeiklub haar drie gevegte tydens die Suid-Afrikaanse Jeug- en Juniorstoeikampioenskappe in Pretoria oortuigend gewen.

Haar goue medalje pronk trots om haar nek waar sy in in die voorportaal van Hoërskool Piet Potgieter met ‘n breë glimlag vertel dat ‘n mens rateltaai en vlug op jou voete moet wees om goed te kan stoei.

Jy moet weet hoe en wanneer om jou teenstaander uit te oorlê en as jy nie fiks is nie, gaan jy nie ver kom nie. Monique het ook in Mei tydens die Junior Afrika-stoeikampioenskappe in Egipte ‘n silwer medalje verower.

“Ek moet eerste dankie sê vir my Hemelse Vader vir my talent. Ek dra my goue medalje op aan my oupa Gawie Venter. Ek weet hy sou ekstra trots gewees het omdat hy self ge-stoei het.

“Vir my ouma Tina wil ek dankie sê vir haar opvoeding en leiding en vir Ronel Kruis wat al die administrasie by die stoeiklub hanteer en sorg dat ons betyds ingeskryf is vir kampioenskappe.”

Monique sê sy werk nou hard om haar droom te bewaarheid om een-dag gekies te word vir die Suid-Afrikaanse span wat aan die Olimpiese Spele gaan deelneem.

Dit is ook die droom van haar klubmaat, Rally Somo (17).

Monique wys trots haar medaljes wat sy  by die  Suid-Afrikaanse en Afrika Jeug- en Juniorstoeikampioenskappe gewen het.
Monique wys trots haar medaljes wat sy by die Suid-Afrikaanse en Afrika Jeug- en Juniorstoeikampioenskappe gewen het.
Monique sê 'n mens moet rateltaai en fiks wees om in die stoeikryt te presteer,
Monique sê ‘n mens moet rateltaai en fiks wees om in die stoeikryt te presteer,
Rally Somo.
Rally Somo.

Rally is stadig maar seker om opgang in die stoeiwêreld te maak. Hy het in die o/20-ouderdomsgroep van die Suid-Afrikaanse Jeug- en Juniorstoeikampioenskappe deelneem en algeheel vyfde geëindig.

Hierdie twee leerders van Piet Pot bedank hul afrigter, Danie Venter vir sy geduld en toewyding.

Monique sê haar pa is nie net die afrigter van die klub nie, maar ook haar grootste ondersteuner. Sy is ook dankbaar vir die tyd en ekstra oefeninge wat haar nasionale afrigters, Rudi Botha en Jan Roets, insit om te sorg dat sy in topvorm is.

Hulle het ‘n groot invloed op haar prestasies en goeie vordering in die kryt.

Related Articles

Back to top button