Martinique is reg vir 2015

Die 24-jarige Martinique Potgieter het baie mense verbaas toe sy 'n negende plek in die Comrades Maraton losgehardloop het.

POLOKWANE – Die 24-jarige Martinique Potgieter het baie mense verbaas toe sy ‘n negende plek in die Comrades Maraton losgehardloop het.

Review het met dié oud-hoofmeisie van Hoërskool Pietersburg gaan gesels.

Martinique studeer tans regte deur Unisa en is ook werksaam by ‘n plaaslike prokureursfima. Sy sê sy was van jongs af verlief op atletiek.

“Langafstande het al deel van my menswees geword en is vir my ‘n uitlaatklep. Ek hardloop saam met ‘n hegte groep mense en dit bring vir my vreugde,” vertel sy.

Martinique het verlede jaar vir die eerste keer aan die Comrades Maraton deelgeneem en voltooi in 9:33:37.

Sy het ‘n brons medalje huistoe gebring nadat sy net 400km afgelê het in haar Comrades oefenprogram.

“Vanjaar het ek glad nie uitgegaan met die top 10 in gedagte nie. Ek het gemik vir ‘n silwer medalje.”

Martinique het goud huistoe gebring en ‘n nuwe persoonlike beste tyd van 7:00:46 opgestel.

“Van die hoogtepunte was verseker die ondersteuning wat ek van die toeskouers en ander hardlopers gekry het. Nes ek wou ophou hardloop en begin stap, het iemand my aangepor en gesê: ‘kom, kom jy lyk goed, hou aan’. Dit lig mens nogal op,” vertel sy.

Vir Martinique was dit ook heerlik om die Comrades saam met haar ma Colinda, oom Johan van der Merwe, en tannie, Erika Bantjes, asook ‘n hegte groep vriende aan te pak.

“Dit was wonderlik. My ma en oom het ook hulle persoonlike beste tye gehardloop,” voeg sy by.

“Ek het doelgerig tussen 900 en 1 000km afgelê voor vanjaar se Comrades. Waar ons gekom het, het ons probeer om kwaliteit oefening in te kry,” vertel sy.

“Ek het eintlik die Comrades met ‘n voetbesering gaan hardloop.

“Ons het dit sover moontlik behandel, maar wanneer die dag aanbreek en jy dink aan al die ure wat jy ingesit het, dan byt jy vir daardie 89km vas.

“Jy is bereid om die pyn op te vreet,” verduidelik Martinique.

Martinique beoog om vorentoe meer doelgerig saam met haar oom, wat ook ‘n wêreldklasatleet is, te oefen.

Exit mobile version