Sesde dan na 33 harde jare

Karate wêreldkampioen en hoofafrigter van die Kimura Shukokai Karateklub in Polo-kwane, Marcia van Niekerk, het na 33 jaar se deelname in dié sport haar sesde dan swart gordel gekry.

POLOKWANE – Karate wêreldkampioen en hoofafrigter van die Kimura Shukokai Karateklub in Polo-kwane, Marcia van Niekerk, het na 33 jaar se deelname in dié sport haar sesde dan swart gordel gekry.

Review het met haar gesels oor hierdie besondere mylpaal.

“Dit is ‘n mikpunt vir enige karatestudent om ‘n swart gordel te kry. In my opinie leer ‘n mens die basiese tegnieke van karate en eers ná jou eerste swart gordel ervaar jy die werklike aspekte van karate. Dis soos om groot te word. Eers leer jy kruip, dan loop jy en as jy jou oë uitvee, kan jy begin hardloop,” het van Niekerk verduidelik.

Sy het aanvanklik opgehou met deelname aan kampioenskappe, maar sê aangesien die Kimura Shukokai Internasionale Wêreldkampioenskap volgende jaar in Suid-Afrika plaasvind, het sy besluit om vir een laaste keer haar land by hierdie toernooi te verteenwoordig. “Dit sal die eerste keer wees dat ek as ‘n veteraan gaan deelneem,” het sy gesê.

Wanneer dit by afrigting kom, geniet sy dit om met kinders te werk. Sy het vertel dat sy regtig ‘n verskil in hul lewens probeer maak.

“Ek bewys aan die kinders dat as hulle hard werk, streng dissipline toepas en deursettingsvermoë toon, kan hulle suksesvol wees.”

Van Niekerk spog met ‘n indrukwekkende wêreldkampioenskap-rekord. Sy het aan vier Shukokai wêreldkampioenskappe deelgeneem en Suid-Afrika in alle style verteenwoordig. Sy het altesaam ses goue medaljes, vier silwer medaljes en twee brons medaljes gewen.

Afgesien van die wêreldkampioenskappe het van Niekerk ook die groen en goud gedra in sewe internasionale toernooie in Switzerland, Portugal, Amerika, Duitsland, Skotland en Suid-Afrika.

“Wanneer ‘n karatestudent weet die wêreldkampioenskappe lê voor, moet dié student weet dat dit met baie harde werk gepaard gaan om ten volle voorbereid te wees. Soos die spreekwoord sê: Dan eet, slaap en drink jy net karate. Dis ‘n groot voorreg om gekies te word en jou land te verteenwoordig. Hier is waar selfdissipline, opoffering en toewyding in sport van toepassing kom,” het sy vertel.

Volgens van Niekerk is dit ‘n lang pad om te stap voor ‘n mens tot ‘n sesde dan kan gradeer. “Dis nie iets wat jy in ‘n jaar se tyd vermag nie. Jy word deur al die hoë gegradeerde sensei’s gemonitor oor die jare heen. Tydens groot oefenkampe word daar sekergemaak dat jy al jou karatetegnieke verstaan. Jy moet tydens hierdie oefenkampe ook hierdie tegnieke kan demonstreer.”

Sy het verduidelik dat om op te kan staan na ‘n teleurstelling, soos om ‘n karatekompetisie te verloor, en weer aan te hou oefen om volgende keer te wen is wat ‘n mens se karakter vorm en jongmense voorberei vir die volwasse lewe.

Sy het ook bygevoeg dat ‘n mens in Kimura Shukokai vanaf vierde dan se gradering slegs op uitnodiging deur die sport se beheerliggaam vir verdere gradering kan inskryf. Daar is ook ‘n tydperk van sewe tot nege jaar wat moet verloop voordat die karateka weer uitgenooi word vir die volgende gradering.

“Ek kan nog nie gewoond raak daaraan dat ek ook nou ‘n hooggeplaasde sensei is nie. Al die jare het ek opgekyk na hierdie mense en nou is ek self daar,” het sy gesê.

Exit mobile version