Bosveld SportSport

Renjaers wys hul vernuf by Bosveld Stockrod Challenge

Bosveld Wedrenklub het vanjaar afgeskop met die Bosveld Stockrod Challenge, waarin stockrodrenjaers aan ses verskillende wedrenne deelneem om as die kampioen aan die einde van die jaar gekroon te word.

MOKOPANE – Karien Ruytenberg van die klub vertel aan Bosveld tydens elke wedren wen die renjaers wat aan die einde van die aand onder die eerste 10 eindig prysgeld. “Die totale prysgeld wat verdeel word tussen die jaers is R10 000 per wedren. Die bedrag per jaer word verdeel volgens punte verdien die aand. Met die laaste been wat gehou gaan word in November, sal die wenner wegstap met ‘n groot bedrag.”

Die eerste Stockrod Challenge is op 24 Februarie op die Ovaalbaan buite Mokopane gehou. Alhoewel die weer nie heeltemal saam gespeel het nie en wedrenne kort-kort onderbreek is deur reën, was dit steeds ‘n sukses. Die jaers het mekaar nog steeds goed die stryd aangesê en gewys hulle kan ook op ‘n nat baan ry. Bosveld Wedren Klub bedank Net die Beste Slaghuis wat die dag se Stockrod prysgeld geborg het.

Die karre staan gereed om weg te spring. Inlas: Heath Bent gerat vir ovaalbaan-aksie tydens die Polokwane-been die afgelope naweek.

Karien sê die tweede been van die Bosveld Stockrod Challenge is op 21 April ook op die ovaalbaan gehou. “Hierdie keer het die weer mooi saamgespeel en die aand was ‘n reuse sukses met aksiebelaaide wedrenne. MJ Bekker van Bosveld Wedrenklub het tydens die kwalifiserende rondte van die Stockrods vir die vinnigste kwalifiserende tyd gesorg. Die klub bedank Autec en Goldwagen Mokopane wat die Stockrod Challenge se prysgeld borge vir die aand was.”

Op Saterdag, 26 Mei het die jaers hul slag op die Polokwane Oval gewys in die National Hotrod Tour. “Bosveld Wedrenklub se jaers het Polokwane gaan ondersteun deur hul klubwedren op Polokwane se baan te gaan ry. Potties ondersteuners wat daar was, sal saamstem dat die aand uit die boonste rakke was met uitstekende wedrenne. Potties se renjaers het baie goed gedoen en in die drie klasse waaraan hulle deelgeneem het met vyf trofeë huistoe gekom.”

Junior stockrodwenners Jeandre Nortje en Karin van Staden van Bosveld Wedrenklub.
Stockrodwenners Sors du Plessis (Mahem), Herman Nel (Bosveld) en MJ Bekker (Bosveld).

Karien sê MJ Bekker en Juanita Bekker het ongelukkig motorprobleme opgetel en kon nie die aand klaarmaak nie. Adriaan Jordaan het baie hard gewerk om sy motor reg te kry en het vir die eerste keer op Polokwane se baan gejaag, maar hy was betrokke in ‘n ongeluk en moes die res van die aand uitsit. Elizka Ruytenberg was ook betrokke in hierdie ongeluk en kon ook nie verder deelneem nie.”

Joseph Bothma se motor wou ook nie heeltemal saamspeel nie, maar het hy darem daarin geslaag om klaar te maak. Boela Bekker het hom goed van sy taak gekwyt en hard baklei om aan die einde van die aand met die derde plek trofee in die 1660 klas weg te stap. Willie Blignaut en Herman Nel het mekaar goed die stryd aangesê in die Stocrodsklas. Blignaut het egter daarin geslaag om as wenner van die aand weg te stap met Herman Nel in die tweede plek, vertel Karien.

Junior Stockrodwenners Wian Jordaan, Karin van Staden en Jeandre Nortje, almal van Bosveld wedrenklub.
Trofeewenners Allen Cunningham (Mahem), Fredrick Cooper (Bosveld) en Marnus du Plessis (Mahem).

Sy sê Wian Jordaan het baie goed gery in die Stockrod juniorklas en het aan die einde van die aand weggestap met ‘n tweede plek. Die jong jaer, Karlo Ruytenberg, wat vir die eerste keer in Polokwane gaan ry het, het trots weggestap met ‘n derde pek.

“Bosveld Wedren Klub bedank almal wat die wedrenne en die klub so getrou ondersteun. Die renjaers waardeer die lojale ondersteuners. Baie dankie aan al die borge wat dit moontlik maak vir die klub om voort te bou. Die klub hou sy volgende klubwedren op Saterdag, 21 Julie. Ons sien uit daarna om al die ondersteuners weer langs die baan te sien.”

Die volgende Bosveld Stockrod Challenge word op 30 Junie by die Polokwane Ovalbaan gehou.

Foto’s van trofeewenners soos vasgevang deur die lens van Annemarie Thiart.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button