Hanru mik vir goud by Statebondspele

Dit is Hanru Botha se droom om 'n medalje vanaf die Statebondspele in Australië huistoe te bring.

MOKOPANE – Dié top stoeier en eienaar van die Mokopane Brave Stoeiklub het Dinsdagoggend in Queensland geland waar hy deel is van die Suid-Afrikaanse stoeispan wat by die Spele hulle vernuf teen verskeie ander lande se beste stoeiers gaan wys.

Hanru se pa en afrigter, Rudi, het aan Bosveld gesê Hanru is top fiks en sien uit om sy teenstaanders in die stoeikryt aan te vat. “Hanru het baie hard geoefen. Tydens die ondersoek van die span se dokters Maandag was sy hartklop 46 slae per minuut wat daarop dui dat hy super fiks is. Hanru is vasberade om ‘n medalje huistoe te bring en ek glo hy sal.”

Hanru Botha, kort na hy in Sydney, Australia geland het.

Dit is ‘n jammerte Hanru se grootste teenstander, Praveen Rana die junior wêreldkampioen en Grand Prix wenner van Indië, is nie by die Spele nie. Hanru kom wel te staan teen ‘n ander Indiese stoeier, Sushil Kumar, wat ook ‘n wêreldkampioen en Olimpiese medaljehouer is.

Sowat 6 000 sportsterre en spanbeamptes van 71 Statebondnasies gaan aan die Goue Kus teen mekaar meeding om medaljes. “Hanru se gevegte word op 12 April op Supersport SS14 tussen 02:25 en 05:30 uitgesaai en die finale geveg op Supersport SS8 tussen 8:55 en 11:45.”

Rudi vertel Hanru het ook in Maart sy eerste professionele boksgeveg in Edenvale Johannesburg aangepak. “Die geveg was teen Mark Anthony Farah in die junior middelgewigafdeling. Farah, wat vierde op die Suid-Afrikaanse ranglys lê, het ‘n skoonrekord en nog nie ‘n enkele geveg verloor nie. Hanru het moedig geboks en in die eerste rondte het dit maar stadig gegaan, maar vandaar het die tempo goed opgetel en dit was ‘n gelykop-uitslag. Ek is baie tevrede en trots op hom.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version