Bosveld SportSport

Fiks en viets in 2017

'n Mens se gesondheid is goud werd en met 2017 wat pas begin het, is dit die ideale tyd om jou tekkies af te stof en by een van die talle sportklubs aan te sluit.

MOKOPANE – Die atlete van die Potties Atletiekklub het verlede jaar behoorlik stof opgeskop waar hulle aan talle wedlope landwyd deelgeneem het. Hulle maak nou reg om aan die plaaslike marathon deel te neem wat op 11 Februarie gehou word. Verlede jaar het honderde atlete kom saam draf op die Sterkrivierpad. Vanjaar word die roete verskuif en loop dit deur die dorp.

Gholfliefhebbers kry kans om naweke hulle stokke by die Kameeldoring Gholfklub te kom swaai en goeie pryse op te raap tydens die talle toernooie, sê Wynand Welgemoed, bestuurder van die klub. Die grootste toernooi is die Kameeldoring Gholfkampioenskappe wat einde September gehou word.

Potties Rugbyklub wil weer die Boet Fickliga inpalm en hoop ook om as wenner aan die Gold Cup deel te neem. Die eerste wedstryd word al op 8 April gespeel. Renier Labuschagne nooi belangstellendes om saam te kom speel.

Die Tuks Mokopane Swemklub se lede is reg deur die jaar in die water waar goeie prestasies behaal word. Daar word in die Krugies se swembad geoefen onder die wakende oog van die afrigter Awie Hattingh.

Rolbal is die ideale sportsoort wat ‘n mens tot in jou seniorjare kan speel en Mokopane spog met een van die mooiste bane in die land. Kom rol die balle saam met die ander klublede en kry ook kans om gedurende die jaar sake uit te spook teen spelers van ander klubs.

Die HPP Luggeweerskietklub nooi belangstellendes, verkieslik kinders bo 12 jaar, om te kom aansluit. Luggeweerskiet is ‘n skole sport wat uit drie posisies bestaan naamlik lê, staan en kniel. Met luggeweerskiet word die kinders geleer hoe om met ‘n vuurwapen te werk, asook om kinders sover in die sport te vat dat hulle eendag self besluit om daarmee aan te gaan. Daar word aan verskeie kompetisies gedurende die jaar deelgeneem. Die skuts oefen Woensdae en Vrydae middae vanaf 14:00 by die Stoeisaal in Fouriestraat.

Die skole het Woensdag begin en daar word uitgesien na ‘n spog atletiekseisoen met die atlete wat al gedurende die vakansie meer as net litte losgemaak het.

Vanjaar word die 54ste Bosveld Interhoër by Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi gehou waar sewe skole mekaar die stryd op die baan en veld gaan aansê.

Die Interhoërkoerant wat voor die byeenkoms uitgegee word, word weer deur Bosveld behartig. ‘n Prag glansboek gaan gedruk word wat met ‘n langer raklewe goed benut kan word deur die verskeie deelnemende skole.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button