Bosveld SportSport

Dubai avontuur vir sewes

Altesaam nege ywerige rugbyspelers van Hoërskool Piet Potgieter op velde van die Sewesstadion in Dubai tydens die immergewilde Emirates Dubai sewesrugbytoernooi uitgedraf

MOKOPANE – Nie net het altesaam nege ywerige rugbyspelers van Hoërskool Piet Potgieter op die lowergroen velde van die Sewesstadion in Dubai tydens die immergewilde Emirates Dubai sewesrugbytoernooi uitgedraf nie, maar hulle het ook eerstehands aanskou hoe die Blitzbokke Fidji in die eerste been van die HSBC Wêreld Sewesreeks 26-14 klop.

Die Emirates Dubai sewesrugbytoernooi is sekerlik een van die grootste en mees bekende sportgeleenthede vir sewes rugby ter wêreld en het verlede jaar sy 47ste bestaansjaar gevier.

Die leerders wat aan die rugbyskouspel van 1 tot 3 Desember deelgeneem het is Renaldo van Wyk, JD Vorster, Abel Khotsa, SW Bruwer, Franco Kiesling, Johnty Darvall, Deon Smit, Nickie Oosthuizen en Ajay Willemse.

Renaldo, JD en Abel was vir die o/19 African Knight Span gekies en het onder meer kragte gemeet teen ‘n span van Frankryk. SW, Franco, Johnty, Deon en Nickie het die o/19 Voortrekkerspan verteenwoordig en Ajay en Ruan Potgieter (onderwyser by HPP) het die o/19 All Star span se naam hoog gehou.

Onderwyser en rugbyafrigter van HPP, Renier Labuschagne was ook mede-afrigter van die African Knightsspan.

Die spelers het verlede jaar gedurende ‘n sewetoernooi in Pretoria vir sprankelrugby gesorg en so ‘n plek in die onderskeie spanne bespreek.

Volgens die Dubai sewes se organiseerders was die 2016 toernooi die grootste een nog met 324 spanne in die uitnodigings toernooi, 937 wedstryde en 4 866 spelers van regoor die wêreld.

Sewesrugby is sinoniem met naelbytaksie en word nou ook erken as ‘n Olimpiese sportsoort.

Die leerders van HPP sê dit was ‘n ongelooflike ervaring.

Een van die hoogtepunte op die toernooi was om skouers te skuur met gesogte spelers en selfs ‘n ‘selfie’ saam met onder andere All Blacks speler, Sione Molia en Sherwin Stowers te neem.

 

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button