Jaagduiwels vereer

Spoedvrate van die Bosveld Wedrenklub het op 26 November vir die laaste keer dié jaar vir witwarm aksie op die ovaalbaan buite die dorp gesorg.

MOKOPANE – Die plaaslike jaers, asook die van Polokwane en Pretoria het behoorlik sake op die baan uitgespook vir ‘n kans om met die louere weg te stap.

Die jaers van die Bosveld Wedrenklub, Adriaan Jordaan, Wian Jordaan en Juanita Bekker het in die Rookie-klas gedomineer en onderskeidelik ‘n plek in die top drie opgeraap. In die Stockrod-klas het Johan Thiart eerste oor die wenstreep gejaag, gevolg deur MJ Bekker en Attie de Witt. Al drie die jaers is van die Bosveld Wedrenklub.

In die 1660’s-klas was Marnus du Plessis van Pretoria as wenner gekroon, met Dylan Bosh van Polokwane kort op sy hakke. Fred Cooper van die Bosveld Wedrenklub het ‘n derde plek ingepalm.

Pinto’s: Potties se Boela Bekker behaal ‘n eerste plek met Sarel du Plessis van Pretoria as naaswenner gevolg deur Banie Oelofse van die Bosveld Wedrenklub. Die Intex Legends-klas was ‘n hoogtepunt vir baie van die toeskouers. Seef Fourie is eerste verby die geruite vlag met Steve Nel wat in sy nek geblaas het. Lonika Maartens het behoorlik die adrenalien op en af van die baan in haar renmotor laat pomp.

Die Bosveld Wedrenklub het die dag op ‘n hoogtepunt afgesluit deur die jaers vir hul spogprestasies gedurende die jaar te vereer.

Juanita Bekker het die Wisseltrofee vir klubdrywer van die jaar verower.

Die volgende jaers het ‘n trofee in die onderskeie klasse verwerf:

Rookie-klas: Juanita Bekker, Stockrod-klas: Johan Thiart, 1660’s-klas: Louis Ruytenberg en in die Pinto-klas : Boela Bekker.

Die Bosveldwedrenklub sê 2016 was ‘n bittersoet jaar. “Ons het groot hoogtes op die baan bereik en die klub pronk met ‘n hele string prestasies, maar ons moes ook afskeid neem van een van ons geliefde jaers, Louis Ruytenberg, wat in Oktober verongeluk het,” sê Alta Bekker.

Die klub bedank al hul borge en lojale toeskouers vir hulle ondersteuning gedurende die jaar.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version