Bosveld SportSport

Potties klub rugbyspelers draf vir oulaas uit

Die oumanne het gewys wie is Baas en wie is Klaas toe hulle verlede Vrydag die jong rugbyspelers pak gegee het op Hoërskool Piet Potgieter se rugbyveld.

MOKOPANE – Potties Rugbyklub het sy jaareindtoekennings gemaak, maar daar moes eers vir oulaas op die veld gespeel word. Dis hier waar die ouer rugbyspelers hulle staal teen ‘n jongspan gewys het om met 29-14 te seëvier.

Die eerstespan het vir kookwaterrugby gesorg en het onder meer vroeër vanjaar met Noordelikes afgereken in die Boet Fick Seniorliga. Die span is ook gekroon as die beste klubrugbyspan in Limpopo.

Die spelers is vol vertroue dat hulle aanstaande jaar die bekers gaan behou.

Hulle wil ook aan die Gold Cup deelneem. Na afloop van die wedstryd is die spelers na die Pierneefsaal waar hulle aangesit het om te hoor wie vanjaar se toekennings kry. Die afrigter, SJ Jonker, het die volgende toekenning oorhandig: Jan Vorster is aangewys as die afrigters se speler van die jaar en het ook gesorg vir die meeste punte. Hans du Plessis is die beste agterspeler van die jaar en Willem Dreyer het die meeste drieë gedruk. Renier Labuschagne is deur die spelers gekies as hulle speler van die jaar.

Die klub bedank vir Frans Fourie, President van die Potties Rugbyklub vir sy harde werk en ook die borge wat hulle kant deeglik gebring het.

Related Articles

Back to top button