Bosveld SportSport

Pieter is ‘n sportman in murg en been

Pieter Vorster het dalk as 'n 'groentjie' die jaar vir Hoërskool Piet Potgieter op die rugbyveld uitgedraf, maar te danke aan sy rugbytalent wat hy gedurende die seisoen ten toon gestel het, is hy vir die o/14-Nasionale Sewes-Bokkiespan gekies.

MOKOPANE – Die span vertrek op 30 November na Portugal waar hulle kragte teen ander top spanne gaan meet. Hy is een van vier uithalerspelers in Limpopo wat vir die span gekies is en die enigste leerder van Piet Pot wat die skool oor die water gaan verteenwoordig.

Pieter het vroeër vanjaar vir hom ‘n plek in die Verre-Noordsewespan bespreek en na afloop van die toernooi het die span koning gekraai.

Hy het gedurende die strawwe kragmetings altesaam 10 drieë aangeteken. Pieter is ‘n sportman van formaat en blink ook in die water en op die atletiekbaan uit. Hy het gedurende die Bosveld Interhoër in Mookgophong vanjaar eerste oor die wenstreep in die 400 m genael.

Pieter sê egter dat rugby hom die naaste aan die hart lê en dat dit sy droom is om eendag vir die Springbokke uit te draf. ‘n Paar van sy glorieryke oomblikke op die veld tot op hede is ondermeer toe hy sy staal in die o/13-Cravenweekspan en in die Limpopo sewespan verlede jaar gewys het.

Hy was ook twee keer gedurende die Cravenweek as speler van die wedstryd aangewys. Pieter sê nóg ‘n hoogtepunt was om in sy gr. 8-jaar as agtsteman vir die o/14-span te speel en die semi-finaal van die Limpopo reeks te haal.

Volgens rugbygeesdriftiges moet ‘n agtsteman oor die balvaardigheid van ‘n agterspeler en die kontakvaardighede van ‘n voorspeler beskik. Daarby moet hul ook oor ‘n besonderse aanvoeling vir die spel beskik.

Pieter sê: “Ek geniet die volle 80 minute van elke wedstryd terdeë, die gees, die spanwerk, adrenalien en natuurlik die wen proe stroopsoet”.

Sport is verseker in die Vorsters se DNA, want verlede jaar het Pieter met die reuse trofee as sportseun van die jaar by Laerskool Krugerpark gepronk en dié jaar het sy suster, Adri, die titel as sportmeisie beklink.

Sy ouers, Pieter en Mara, sê hulle is vreeslik trots op Pieter se spogprestasies en dat hulle nie sommer een van sy wedstryde misloop nie.

Pieter sê hy is kinderlik opgewonde om die 30ste op die vliegtuig te klim en sy rugbystewels nader te trek.

Hy bedank al sy borge wat die geleentheid vir hom moontlik maak.

Voor hy by Bosveld se deure uitstap beloof hy met ‘n breë glimlag om sy ervaring en kiekies na afloop van die toernooi met Bosveld te kom deel.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button