Pedale sing om DBV ‘n hupstoot te gee

Die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV) is vir die laaste twee jaar kort-kort in 'n finansiële knyp weens die feit dat hulle alleenlik staatmaak op donasies.

MOKOPANE – Die gemeenskap het egter die DBV se pleidooi gehoor en te danke aan verskeie fondsinsamelingsprojekte en donasies is dié las verlig.

Een van die fondsinsamelingsprojekte wat ten bate van die DBV geloods is, was die Noon 2 Moon bergfietswedren wat verlede Saterdag in die Wildteelsentrum deur die Mokopane Fietsryklub aangebied is. Die wedren was ‘n reuse sukses en R12 500 is aan die DBV geskenk.

Adele Essakow, Mediabeampte van die klub, sê: “Dit was ‘n maklike besluit vir die bestuur van die fietsryklub om hierdie jaar se fondsinsamelingsprojek ten bate van die DBV aan te bied. Ons het besighede uitgedaag om spanne van vier in te skryf om ‘n roete oor verskeie rondtes aan te pak”.

Essakow vertel verder dat hulle in hul noppies is oor die opkoms en dat altesaam 10 spanne mekaar die stryd aangesê het. Spanne van Playball, Dynalift, HM Plant Hire, Midas, Real Specs, Lombardi, ARC Engineering, Vlakte, Gecko Guesthouse, en SAC het hulle pedale vir die goeie doel laat sing.

Die wedren het om 16:00 afgeskop en die uitdaging was om soveel rondtes as moontlik voor 22:00 te voltooi.

Die Playball Knight Riders, Awie Hattingh, Siraj Aphiri, Herman de Villiers en Carel Taljaard het met die louere weggestap. Terwyl die spanne hul staal op die roete gewys het, is die braaivleisvure aangesteek en later is daar heerlik gesmul.

Die fietsryklub bedank al die borge wat die projek ondersteun het en bygedra het tot die sukses van die geleentheid. Essakow sê verder dat hulle reeds besig is met die beplanning vir volgende jaar se Noon 2 Moon.

Marcelle Maritz, Bestuurder van die DBV, sê aan Bosveld die ondersteuning vanaf die gemeenskap is wonderlik en dit is om die rede dat sy ‘n plattelander in murg en been is. Sy bedank in besonder die fietsryklub vir die kreatiewe en aktiewe wyse waarop fondse ingesamel is en sê die skenking word met ope hart ontvang.

Bosveld wens die Mokopane Fietsryklub geluk met hulle goeie poging en daag ander organisasies uit om ook met inisiatiewe vorendag te kom om ander instansies soos die Noodforum, wat tans in ‘n finansiële wurggreep verkeer, te help.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version