Brons vir SA tydens Laser Run Wêreldkampioenskappe

Sy sal nooit die trotse gesigte van haar seun en die res van die SA-span vergeet toe die brons medalje om haar nek gesit word nie.

MOKOPANE – Vanaf die podium was dit ‘n onvergeetlike “wow”-oomblik, sê Armanda Kruger.
Armanda het ‘n spog derde plek in Lisbon, Portugal behaal waar sy van 1 tot 4 September aan die Meesters A-afdeling van die Laser Run Wêreldkampioenskappe deelgeneem het.
Sy kuier by Bosveld waar sy alle eer aan haar Skepper gee. Sy vertel ook van haar belofte aan ‘n vriendin, Janet Duvenhage, wie vroeër vanjaar haar stryd teen kanker verloor het, om namens haar deel te neem.
“Janet wie self ‘n kranige sportvrou was, het gesaai en was vir baie mense ‘n inspirasie.

Haar woorde en my belofte aan haar was daardie laaste motivering om aan te hou.”Met Laser Run word daar in haar afdeling 4 x 400 m gehardloop en geskiet na ‘n teiken op ‘n afstand van 10 m. Armanda is ook trots op haar seun, Kurt, wat 10de geëindig het in sy ouderdomsgroep en sy spanmaat, Cobus van Wyk, wie ‘n 14de plek verower het.
Tussen die taai kampioenskappe was daar darem tyd om Portugal se kultuur en argitektuur van nader te leer ken. “Die outydse straatjies en winkels het my bekoor, so ook al die parke waar mense in ‘n ontspanne luim uitspan.” Armanda sal graag aanstaande jaar wil teruggaan en dink dan terug aan die goeie vriendskapsbande wat gesmee is met van deelnemers van ander lande. Nou wag die Biathle op 19 Oktober in die Verenigde State. Sy en Kurt oefen hard en gaan als uithaal in swem en hardloop. Saam met hulle op die vliegtuig is Mokopane se Anél de Vos, Morné van der Bank en Danré Grove.

Die Laer Run Wêreldkampioenskappe is onlangs in Portugal gehou en drie van Mokopane se atlete het trots die land daar verteenwoordig.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version