Rateltaai in die stoeikrytis Marie Oosthuizen

Marie Oosthuizen weet hoe om haar teenstaanders in die stoeikryt uit te oorlê daarom is sy nie verniet een van ons land se top vroue stoeiers nie.

MOKOPANE – Marie (18) het op 1 Julie aan die Suid-Afrikaanse Senior-stoeikampioenskappe deelgeneem en ‘n goue medalje verower. Die kampioenskappe is in Brakpan gehou waar sy teen van die land se beste stoeiers gewys het sy word nie maklik geklop nie. Sy het in die ouderdomsgroep vir vroue 21 jaar en ouer gestoei en al haar opponente op die mat vasgepen om met valle te seëvier.

Marie het op vyfjarige ouderdom begin stoei en sedertdien is daar geen keer aan haar nie. Sy het onder meer verlede jaar aan die Afrika Stoeikampioenskappe in Egipte gaan deelneem en met ‘n goue medalje teruggekom huis toe. Sy het ook in September verlede jaar aan die Wêreldstoeikampioenskappe in Bosnië deelgeneem en het algeheel 17de geeïndig onder die wêreld se voorste stoeiers.

Marie vertel sy het in 2013 ‘n rekord opgestel vir die eerste vrou wat na 103 jaar die SA Kadette-kampioenskappe, SA Jeugkampioenskappe en die SA Presidentekampioenskappe titels verower het. Haar droom is om aan die 2018 Statebond Spele in haar Suid-Afrikaanse kleure te gaan deelneem. Sy oefen so veel moontlik onder die wakende oog van haar afrigter, Japie Snyders.

Marie sê dankie vir die gemeenskap se lojale ondersteuning en haar pa, Bertus, wat haar grootste steunpilaar is.

Die goue medalje wat Marie Oosthuizen losgestoei het.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version