Bosveld SportSport

Armanda swem, hardloop vir goeie doel

Armanda Kruger sê Janet, wat op 15 Mei na 'n lang stryd teen kanker oorlede is, het voor haar dood haar gevra om vanjaar aan die kampioenskappe deel te neem.

MOKOPANE – Die son het ‘n goue stralekrans oor haar gegooi en dit was asof Janet Duvenhage op daardie oomblik oor haar skyn toe sy haar silwer medalje ontvang na afloop van die Suid-Afrikaanse Triathle kampioenskappe, vertel Armanda Kruger.

Armanda het goeie prestasies behaal tydens die Suid-Afrikaanse Biathle, Triathle en Laser Run kampioenskappe wat verlede naweek in Bela-Bela gehou is. Haar deelname was vir ‘n vriendin, Janet, wat op 15 Mei na ‘n lang stryd teen kanker oorlede is.

Armanda sê Janet het voor haar dood haar gevra om vanjaar aan die kampioenskappe deel te neem.

“Janet was ‘n sportiewe vrou wat drie jaar gelede in haar Limpopo kleure aan die SA Biathle kampioenskappe deelgeneem het.

Sy was alombekend en baie geliefd. Ek het dit vir haar gedoen.”

Armanda is na die Biathle kampioenskappe wat verlede Saterdag gehou is, gekies vir ‘n Suid-Afrikaanse presidentspan. In Biathle word daar gehardloop, geswem en weer gehardloop. Sondag het sy aan die Suid-Afrikaanse Triathle kampioenskappe deelgeneem wat vier rondes van skiet, swem en hardloop behels.

Hier het sy ‘n silwer trofee opgeraap.

Sy het Maandag ook aan die SA Laser Run kampioenskappe deelgeneem en ‘n bronstrofee verower. In hierdie kampioenskappe word daar vir vier rondes geskiet en gehardloop.

Armanda wil Janet se familie bedank vir die borg van die deelnemersmedaljes.

Sy wys na die gepaste voorwoord van die boekie met die program wat elke deelnemer ontvang het:

“Met ‘n hart van goud en ‘n hand wat altyd oop was vir almal. Dis hoe ons Janet Duvenhage sal onthou.

“Ons weet dat haar legende sal voortleef en mag elkeen van ons die krag in onsself vind om ons krag en talente te gebruik om ‘n verskil te maak.”

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button