Bosveld SportSport

Epiese trap vir tawwe ryer

Hein du Plessis se droom om die Absa Cape Epic bergfietsren te ry, word Saterdag bewaarheid wanneer hy saam met sowat 1 200 deelnemers wegspring in een van die wêreld se taaiste fietsuithouwedrenne wat oor agt dae beslis word.

MOKOPANE – Hein se spanmaat is Reyno van der Hoven van die Kaap. Hy en Du Plessis het sedert September verlede jaar ernstig begin oefen vir die wedren.

Hein vertel sy droom word nou werklikheid en hy is gerat om die roete te voltooi. Hy het sowat drie jaar gelede weer op sy fiets geklim en saam sy gesin begin trap. “Die lekkerte van fietsry is dat dit nie net gesond is nie, maar jy kan self besluit op watter vlak jy wil deelneem en of jy net vir die genot wil ry. Fietsryers het ook respek vir die natuur en vir mekaar.”

Hein het ‘n streng oefenprogram gevolg wat vir hom deur ‘n afrigter in die Kaap uitgewerk is en wat sy vordering fyn gemonitor het. “Die Cape Epic is seker alle bergfietsryers se droom omdat dit bekend is as die moeilikste wedren in die wêreld. Dit is soos die langpadfietsryers se Tour de France en die langasematlete se Comrades.”

Verlede week is Hein, besturende direkteur van Debtsafe, verras toe sy werknemers hom buite die kantoor ingewag het in goudgeel Cape Epic hemde en plakkate om hom moed in te praat.

Daar is saam na ‘n video gekyk oor Hein se droom en die roete wat wag. Hein het sy werkers bedank vir hulle ondersteuning en aanmoediging en sê ook dankie aan sy vrou, Linda wat hom tot nou bygestaan en gehelp het in sy voorbereiding.

Bosveld wens hom sterkte toe.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button