Tafel gedek vir ‘n soet oorwinning

Twee rugbyspanne van HPP het die een na die ander seges in hul blou truie ingeryg en speel Saterdag op Groblersdal in die eindstryde om die gesogte Beeld Noordvaaltrofee vir mediumskole.

MOKOPANE – Gaan die lentereën vanjaar vroeg val? Dit som die opgewonde gevoel in Mokopane op nadat blou blitse die afgelope tyd onverpoos op die rugbyveld van Hoërskool Piet Potgieter donder.

Twee rugbyspanne van HPP het die een na die ander seges in hul blou truie ingeryg en speel Saterdag op Groblersdal in die eindstryde om die gesogte Beeld Noordvaaltrofee vir mediumskole.

Beeldtrofee in die visier vir Piet Pot se eerstes

HPP o/15- span will die kampioene wees

Dit sal die eerste keer in 47 jaar wees dat die eersterugbyspan weer in so ‘n eindstryd uitdraf in die hoop om die beker te wen. Die laaste keer was in 1968 wat Piet Pot die Noordvaaltrofee (direkteursbeker) gewen het toe daar ook nog nie onderskeid getref was tussen makro, medium en kleiner skole.

HPP se dubbele vreugde met twee spanne in die eindstryde kom boonop in ‘n belangrike jaar deurdat die skool einde vanjaar afskeid neem van sy geliefde hoof, Jas Hansen, ‘n groot gemeenskapsgees en reuse rugbyliefhebber wat nie vir ‘n meer gepaste afskeidsgeskenk kan vra nie. HPP se rugbyspanne het juis hul rugby vanjaar aan hom opgedra.

Die skool se spog prestasies weerklink ook wyer omdat die Beeld Noordvaaltrofee vanjaar in Limpopo staanplek kry, wie ookal wen. Beide Piet Pot en hul teenstaander, Hoërskool Ben Viljoen, is van hier. Voorts wys dit dat rugby se voedingsbron op die platteland kern gesond is.

Vir Piet Pot sal dit third time lucky wees as hulle met die Bennies afreken, wat ook die Limpopokampioen is. HPP se eerstes het egter verlede Saterdag in die semifinaal naelskraap in die doodsnikke van die wedstryd teen Hoërskool Vryburg gewen om hul plek in die finaal te verseker. Die eindtelling was 33-32. ‘n Video wat die oorwinningsoomblikke vasvang op Bosveld se facebookblad het vandeesweek al meer as 3 500 besoeke gehad.

Die skool se o/15-span kom komende Saterdag teen Hoërskool Ellisras te staan nadat hul ook verlede Saterdag op hul tuisveld Hoërskool Brandwag van Benoni met 8-0 geklop het.

‘n Verdere pluimpie vir die provinsie is dat Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong se o/16-span ook deur is na die eindstryd. Hulle het verlede Saterdag met Midstream College in Pretoria afgereken. Die eindtelling was 19-16. Die Hansies se blou vlam gaan Saterdag hoog brand wanneer hul span teen Hoërskool Vryburg op die veld draf.

Terwyl Bosveldharte trots swel oor die lekker rugby bonanza word reëlings getref om genoeg ondersteuners langs die veld van Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal te kry waar al die eindstryde gespeel word. Die wedstryde begin vroegoggend en die skole vra die gemeenskap om die spanne te kom ondersteun.

‘n Trotse oomblik vir die eersterugbyspan en hul afrigters nadat hulle verlede Saterdag Hoërskool Vryburg gewen het. Die span hoop om komende Saterdag die Beeld Noordvaaltrofee op te raap in die eindstryd. Dit sal dan die eerste keer in 47 jaar wees wat Piet Pot weer die beker (voorheen die direkteurstrofee) huis toe bring.
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version