Bosveld SportSport

Tot laataand balle gerol en gekuier

DIE Piet Van Zylrolbalaand het verlede Vrydag sowat 120 aspirant-spelers gelok en die aand was gevul met groot gees en hope pret.

MOKOPANE – DIE Piet Van Zylrolbalaand het verlede Vrydag sowat 120 aspirant-spelers gelok en die aand was gevul met groot gees en hope pret.

Onder spreiligte het die verskeie spanne met uiterste konsentrasie gekorrel om die bal reg te rol terwyl die kinders rond baljaar het en die reuk van braaivleis die lug gevul het.

“Die aand was ‘n reuse sukses en die inwoners het hul gate uit geniet.

“Dit was heerlik om ons bane so vol spelers te sien en ons nooi almal uit om te kom aansluit by die klub. Ek hoop om die deelnemers meer gereeld op die rolbalbaan te sien,” sĂȘ Urma Prinsloo, sekretaresse van die rolbalklub.

Die volgende spanne het as wenners uit die stryd getree:

Die Zebediela Bricks span van Pierre Peens het ‘n eerste plek los gerol. Die span bestaande uit Danny en Sonja van Rooyen en Dewald en Shani de Beer het ‘n tweede plek ingepalm. Die drie Coetzee broers, Hendrik, Janco en Hannes, het ‘n derde plek opgeraap.

Die rolbalklub bedank die gemeenskap en die volgende borge vir hulle ondersteuning en bydrae: Piet van Zyl, Waltie van der Walt van Meat City en Pierre Peens van Zebediela Bricks. Belangstellendes kan Urma 082 898 2686 of vir Klasie Le Roux op 079 508 7324 skakel.

Related Articles

Back to top button