Sport

Spiesgooi nogal in die sneeu!

Antonette Jordaan sê haar algehele ondervinding tydens die Internasionale Kampioenskappe in Poland is ‘n onbeskryflike belewenis.

POLOKWANE- Nie sneeu of ‘n 11-uurlange vlug kon Antonette Jordaan, wiskunde-onnie by HTS Tom Naudé onlangs verhoed om aan die Wêreld Meesters Atletiekkampioenskappe in Toru , Poland, deel te neem nie.

Dit is Antonette se vierde byeenkoms en sy het in diskus, hamergooi, spiesgooi, gewigstoot en gewiggooi deelgeneem.

Die kampioenskappe het aan die begin van Mei plaasgevind.

“Alhoewel die hamergooi ‘n binneshuise item is, is dit buite gehou.Dit was koud en het ‘n bietjie gereën, maar dit kon nie ons gees blus nie. Ek het tydens my persoonlike beste afstand in gewigstoot by dié kampioenskappe behaal.”

Vir Antonette was die sneeu ‘n groot verrassing.

“Om deel te neem aan die spiesgooi in die sneeu was baie interessant. Die greep van die spies is nat en gevries. Die tartan van die aanloop was soos sement en die beamptes het die sektorlyne met ‘n besem oopgestoot sodat ons kan weet waar om te gooi.

“Jy het so baie lae klere om uit te trek voordat jy gooi dat jy twee gooiers voor jou al moes begin uittrek. Dit maak nie saak hoeveel keer jy opwarm nie, jou spiere is koud tot teen die been. Vir my was dit ‘n ervaring wat ek nie in woorde kan beskryf nie.”

Antonette Jordaan tydens die Wêreld Meesters Atletiek kampioenskappe.

Na die hamergooi het Jara Sm lý, bekende atleet van die Tsjeggiese Republiek, Antonette genooi om aan die Masters Europa Lovosice 2024 kampioenskappe deel te neem.

“Ek voel baie bevoorreg om as een van die genooide atlete daar te kan gaan deelneem. Ek sal baie graag die geleentheid wil bywoon indien moontlik.”

Tydens die afgelope kampioenskappe het Antonette ‘n vyfde plek, twee sesde plekke, ‘n sewende plek en ‘n negende plek behaal.

“Ek beoog om vir ‘n podiumposisie of meer te werk tydens die komende Afrika Kampioenskappe, en mik ook vir ‘n podiumplek by volgende jaar se Wêreldkampioenskappe in Gothenburg, Swede. Ek het onlangs begin om vir my ‘n program saam te stel waar ek onder andere aan my spoed werk met die oog daarop om te help dat ek vinniger in my sirkels draai. Om die worpe vyfkamp te verbeter, gaan ek verseker aan my spiesgooi moet werk.”

Antonette sê haar algehele ondervinding tydens die Internasionale Kampioenskappe is ‘n onbeskryflike belewenis.

“Die lande wat ek nou al besoek het is skoon, die lug is nie so besoedel nie, jy kan in die state rondloop en die besienswaardighede geniet. Die mense van veral Pole, is nie baie lief vir Engels nie, maar die wat bereid is om te luister, sal jou help as jy verdwaal. Die geskiedenis van elke land is verrykend en leersaam. Die ontwikkeling van tegnologie is ongelooflik veral op openbare vervoer.”

Om teen goeie kompetisie deel te neem is nog ‘n hoogtepunt vir Antonette. “Dit maak dat ek die silwer medaljes wat ek verwerf het as ‘n doelwit te gebruik om dit met die volgende kompetisie te vervang met ‘n goud. Internasionaal is ek besig om nader aan die podium te beweeg. Dit is definitief een van my grootste doelwitte.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button