Sport

‘n Kannetjie wat kán op ‘n ysterperd

Nathan Visagie is van 'n jong ouderdom aan die sportsoort blootgestel toe sy pa hom op 'n motorfiets laat sit het.

POLOKWANE – Die Motocross motorfiets is bykans net so hoog soos die negejarige Nathan Visagie, maar dit is met gemak wat hy bo-op klouter, gereed vir die sandduine.

Nathan het reeds twee-en-‘n-half jaar gelede kennis gemaak met dié sportsoort, toe sy pa hom op ‘n motorfiets laat sit het.

“Ek het gery, afgeval, terug opgeklim en verder gery,” vertel hy.

Sy eerste provinsiale kompetisie was verlede Januarie en daarna was hy slegs 40 sekondes na die nommer een ryer in sy klas.

Nathan het ook vroeër vandeesmaand aan die Inland Dragon interprovinsiale kompetisie in Diepsloot deelgeneem waarna hy nou derde geëndig het, en inter-provinsiaal is hy tans tweede op die ranglys.

Hy ry tans nog met ‘n 50cc, maar sê een van die dae, kry hy ‘n 65cc motorfiets ry.

“Ek geniet elke deel daarvan om motorfiets te ry en aan kompetisies deel te neem. Alles is lekker, selfs die stof. En as die baan nat en modderig, kan ons nogsteeds ry.”

Een hindernis op sy pad is wel dat al die professionele afrigters in Pretoria is, en die ander ryers reeds voor ‘n kompetisie op die baan kan ry om die gevoel daarvan te kry.

Dit het Nathan nie afgeskrik nie en hy het die plaaslike baan vol moed aangepak en sonder afrigting begin spring met die motorfiets.

“Ek oefen elke naweek en soms deur die week.

“My pa rig my af en hy is baie goed. Ek het toe ek sewe was die eerste keer afgeval deur bo-oor die handvatsels te vlieg. Ek het hier besef ek hou van die sport en het die stof van my afgeskud en weer opgeklim. Ongelukkig was die handvatsels skeef na die val en kon ek nie verder ry nie. Ek moes nuwe handvatsels koop.”

Nathan is in gr. 3 by Oosskool waar hy ook aan landloop deelneem en rugby speel.

“Ek wil ook graag skaak speel. Dit is vir my ‘n baie lekker spel en ek speel gereeld teen my familie of die rekenaar. Ek sal graag eendag na skool ‘n onderwyser wil wees.”

Wanneer Nathan se huiswerk klaar is, speel hy en sy sussie, Danika graag saam, voeg hy by.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button