Sport

Skole, klubs meet kragte in jukskeiliga

Die eerste liga vir die jaar is Saterdag vir skolespanne en Limpopo-klubs by die Tarentale Jukskeiklub in Mokopane gehou. Spelers het hul beste voetjie voorgesit om aan die einde van die dag as wenners gekroon te word. A-afdeling In die skoleliga het Hoërskool Pietersburg (PHS) se o.16-meisies ‘n algehele eersteplek behaal terwyl die o.19-meisies derde …

Die eerste liga vir die jaar is Saterdag vir skolespanne en Limpopo-klubs by die Tarentale Jukskeiklub in Mokopane gehou.
Spelers het hul beste voetjie voorgesit om aan die einde van die dag as wenners gekroon te word.
A-afdeling
In die skoleliga het Hoërskool Pietersburg (PHS) se o.16-meisies ‘n algehele eersteplek behaal terwyl die o.19-meisies derde geëindig het. Pieties se o.19-seunspan behaal die vierde plek terwyl Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se seunspan as naaswenners gekroon word.
In dieselfde afdeling was dit Pietersburg Jukskeiklub wat met louere in die klubkompetisie weggestap het gevolg deur Nylstroom en Tarentale in die tweede en derde plek onderskeidelik.
B-afdeling
PHS en Tommies se o.16-seunspan deel die eerste plek in dié afdeling en het die tweede en derde plek vir Hoërskool Frikkie Meyer se spanne oopgelos.
Die klubliga is deur Thabazimbi Jukskeiklub oorheers met Nylstroom in die tweede plek en Pietersburg derde.
C-afdeling
In die klubliga se C1-afdeling is Nylstroom as wenner gekroon met Soutpan Jukskeiklub van Louis Trichardt in die tweede plek en Pietersburg derde.
In die C2-afdeling het Nylstroom weer met die louere weggestap terwyl Soutpan die tweede tot vierde plek op die puntekaart ingeneem het.
Laerskole
Dendron Primary School was onoorwonne in dié meisies-afdeling terwyl Pietersburg Laerskool se A- en B-span sowel as Laerskool Pietersburg-Oos se B-span die tweede plek gedeel het.
In die seuns-afdeling was Oosskool se A-span die beste met Dendron in die tweede plek en Oosskool en Suidskool se B- en A-span wat die derde plek deel.
Met die algehele uitslae van die laerskole was Oosskool eerste met Suidskool tweede en Dendron derde.
Tommies het die hoërskool-afdeling oorheers met PHS in die tweede plek en Frikkie Meyer derde.

Story en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Jean-Jacques Joubert van PHS lewer ‘n perfekte gooi.
Tommies se Gert Kotze verduidelik vir spanmaat met watter tipe skei hy moet gooi.
Anél Esterhuisen van Suidskool in aksie tydens die skoleliga.

Related Articles

Back to top button