Sport

Lenize Potgieter speel 50ste Protea-wedstryd plaaslik

Eers was sy baie beskeie, maar tog loop Lenize Potgieter, Protea-netbalspeler en oud-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS), oor van trots en opgewondenheid omdat sy Dinsdag tydens die begin van die internasionale Diamond Challenge by die Ngoako Ramathlodi Sports Complex in Seshego in haar 50ste wedstryd as Protea-speler uitgedraf het. “Ek is trots daarop om dié …

Eers was sy baie beskeie, maar tog loop Lenize Potgieter, Protea-netbalspeler en oud-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS), oor van trots en opgewondenheid omdat sy Dinsdag tydens die begin van die internasionale Diamond Challenge by die Ngoako Ramathlodi Sports Complex in Seshego in haar 50ste wedstryd as Protea-speler uitgedraf het.
“Ek is trots daarop om dié mylpaal te kon behaal en dit boonop te kan vier in ‘n gebied waar ek groot geword het. Die span en ondersteu­ners is net so opgewonde oor die eer wat my te beurt geval het,” sê sy.
Dié Protea-hoofdoel meen Limpopo word meer en meer op nasionale en internasionale sportgebied verteenwoordig en geen sportman of -vrou hoef vir enige ander provinsie terug te staan nie.
Sy ploeg ook terug in die plaaslike gemeenskap en is ‘n bekende gesig by PHS, Pietersburg Laerskool en Laerskool Pietersburg-Oos waar sy gereeld kursusse veral vir doele aanbied.
Oor die Diamond Challenge is sy baie optimisties dat die Proteaspan met die louere sal wegstap.
“Ons speel teen Namibië, Botswana, Zimbabwe, Zambië en die Suid-Afrikaanse Presidents XII-span. Ek vermoed dit gaan ‘n harde toernooi wees omdat spelers van Afrikalande fiks is. Hulle is taai spanne en ek dink nie daar is een wedstryd wat ons sommer van die begin af as afgehandel moet aanvaar nie. Ons sal ons beste voetjie in elke wedstryd moet voorsit,” sê Potgieter.
In ‘n persverklaring sê Protea-afrigter, Norma Plummer, dat sy tevrede is met die standaard van die spelers. “Ons sal spelers van ander deelnemende spanne respekteer en hard werk om hulle oortuigend te wen. Afrika speel ‘n unieke spel en die Proteas sal vinnig moet aanpas om hul opponente ore aan te sit,” sê Plummer.
Uitslae van die wedstryde sal in volgende week se uitgawe verskyn.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button