Sport

Jaco Peyper oor besluite op die veld

Bekende rugbyskeidsregter, Jaco Peyper (37), wat Saterdag se wedstryd tussen die Vodacom Bulls en Cell C Sharks in die stad hanteer het, het met Polokwane Observer gesels tydens sy gesprek Vrydag met skeidsregters in die provinsie. Peyper het 90 Super Rugbywedstryde en 40 internasionale toetse agter die rug en is ‘n Bloemfonteiner in murg en …

Bekende rugbyskeidsregter, Jaco Peyper (37), wat Saterdag se wedstryd tussen die Vodacom Bulls en Cell C Sharks in die stad hanteer het, het met Polokwane Observer gesels tydens sy gesprek Vrydag met skeidsregters in die provinsie.
Peyper het 90 Super Rugbywedstryde en 40 internasionale toetse agter die rug en is ‘n Bloemfonteiner in murg en been. Hy gee dadelik die versekering dat hy 100% neutraal bly as dit by rugbysake kom.
“Wanneer jy ‘n skeidsregter word, mag jy nie vir jou eie provinsie se span blaas nie om objektiwiteit te verseker. Met tyd en ondervinding leer jy om onpartydig te wees ten spyte van wie of wat op die veld is. Tans skree ek net vir die Springbokke want dis die enigste span wie se wedstryde ek nie hanteer nie.”
Peyper meen ‘n skeidsregter neem op professionele vlak tot 800 beslissings in ‘n wedstryd en daar bly altyd vyf of ses besluite waaroor mense debatteer. “Net soos spanne ‘n wedstryd na die tyd analiseer, doen die skeidsregters want jy moet groei en uit jou foute leer. Mens maak soms in die hitte van die oomblik oordeelsfoute omdat jy vinnig besluite moet neem en op daardie oomblik is jy daarvan oortuig dat jy die regte ding doen.” Hy meen dat hy nie een skeidsregter ken wat opsetlik foute maak nie.
Hy lees glad nie berigte en kommentaar oor wedstryde waarin hy betrokke was nie. “Steve Jobs het nie verniet gesê as jy almal gelukkig wil hou moet jy roomys verkoop nie. Dis iets wat jy vinnig moet leer as jy ‘n professionele speler, skeidsregter of afrigter is.”
Die een wedstryd wat vir hom uitstaan, is die een verlede jaar tussen Nieu-Seeland en die Britse Leeus. “Die eerste toets was ‘n wonderlike kragmeting en voorbeeld van hoe rugby gespeel moet word. Ek het die fluitjie hanteer en die spelers het reageer. Hulle was so vaardig en gedissiplineerd dat hulle my nie baie nodig gehad het nie.”
Advies aan voornemende skeidsregters gee hy graag. “Daar’s ‘n hele paar goed waaruit die pakkie van ‘n skeidsregter bestaan. Die belangrikste is liefde vir rugby en leierskap sodat jy die spanne se samewerking het. Wees fiks, sorg dat jy goeie tegniese kennis van die reëls het asook die vermoë om taktiese besluite te neem.”
Sy pa het hom geleer dat terugvoer of kritiek die ontbyt van kampioene is. “As jy bereid is om die terugvoer of kritiek te vat, te eet en te verteer sal jy leer en ‘n kampioen word.”

Storie en foto’s: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za

Johan van Huyssteen, voorsitter van Limpopo Skeidsregters, Jaco Peyper, internasionale skeidsregter, Zander Kubannek, plaaslike skeidsregter en Johané Schutte, die enigste vroulike skeidsregter in Limpopo, is almal ewe lief vir rugby.

Related Articles

Back to top button