Sport

Tennisbane kry nuwe baadjie danksy samewerking

Na ‘n artikel oor die swak toestand van die Polokwane Tennisklub se bane in Polokwane Observer verlede jaar, het ‘n plaaslike inwoner en tennisliefhebber saam met die Polokwane Munisipaliteit woord by daad gevoeg om die bane op te gradeer. Die beskeie weldoener wat as koördineerder tussen die munisipaliteit en verskeie plaaslike besighede opgetree het, verkies …

Na ‘n artikel oor die swak toestand van die Polokwane Tennisklub se bane in Polokwane Observer verlede jaar, het ‘n plaaslike inwoner en tennisliefhebber saam met die Polokwane Munisipaliteit woord by daad gevoeg om die bane op te gradeer.
Die beskeie weldoener wat as koördineerder tussen die munisipaliteit en verskeie plaaslike besighede opgetree het, verkies om anoniem te bly. “Ek speel tennis en weet in hoe ‘n slegte toestand die bane was. Op 22 November verlede jaar is die eerste vergade­ring met die stadsraad gehou waarna dinge begin gebeur het. Vyf van die 15 bane is ten volle opgegradeer en die speeloppervlak is oorgedoen en die ander tien bane sal hopelik voor die einde van die jaar ook met ‘n nuwe baadjie spog.”
Al die bane het nuwe nette gekry, skadunette is opgesit, voetpaadjies is verbeter om toeganklikheid vir rolstoelspelers te vergemaklik, tafels en stoele rondom die bane is oorgeverf, tuine is opgeknap en vervalle staalstrukture is herstel. Die klubhuis se houtvloer is afgeskuur en behandel, die badkamers weer opgetooi, alle water- en rioolkonneksies is nagegaan en die alarmstelsel is herstel.
“Die munisipaliteit het werklik hul kant gebring om die fasiliteite te verbeter. Danksy hul samewerking met gemeenskapslede en plaaslike besighede hoef Polokwane hom nie meer vir die bane te skaam nie. Ek wil my opregte dank teenoor almal wat bygedra het, uitspreek.”
Tennisliefhebbers kan uitsien na die jaarlikse junior tennistoernooi wat later die maand aangebied word sowel as die Mayoral Tennis Tournament in Augustus.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button